Opbrengste-wissel-dramaties-sê-Oesskattingskomitee
Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 10,998 miljoen ton gestel, wat 0,05 % of 5 350 ton hoër is as die vorige skatting. Die totale skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,372 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 4,64 t/ha beloop.
Die Oesskattingskomitee sê in sy jongste verslag die goeie reën wat vanaf April en veral in Junie voorgekom het, veroorsaak dat die lande baie nat is en dat die stroopproses van grane en oliesade hierdeur vertraag word. Verder nog, volgens aanduidings wissel die opbrengste dramaties binne streke/gebiede. “Neem ook kennis dat die Oesskattingskomitee slegs die potensiële grootte van die oeste skat, en nie die gehalte daarvan nie.”
Die oppervlak onder witmielies is 1,418 miljoen ha en vir geelmielies is dit 954 000 ha.
Die produksieskatting van witmielies is 6,369 miljoen ton, wat 1 550 ton minder is as die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 4,49 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,629 miljoen ton, wat 6 900 ton meer is as die vorige skatting. Die verwagte opbrengs van geelmielies is 4,85 t/ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is afwaarts aangepas met 3,6% na 780 470 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 642 700 ha, en die verwagte opbrengs is 1,21 t/ha.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is opwaarts aangepas met 3,3% na 699 250 ton.
Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 418 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,67 t/ha is. Die verwagte grondbone-oes het afgeneem met 2 315 ton na 83 210 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 55 150 ha, en die verwagte opbrengs 1,51 t/ha.
Die produksieskatting van sorghum is 191 900 ton, wat 9 900 ton minder is as die 201 800 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 69 200 ha en die verwagte opbrengs is 2,77 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting afwaarts aangepas met 2 370 ton na 45 250 ton. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 41 900 ha, en die verwagte opbrengs is 1,08 t/ha.