Ontmoet Rozanne Herion: Geen taak is te groot vir die ystervrou

WhatsApp Image 2024-07-23 at 18.04.50_e0d4ebe5
Rozanne Herion het in 2023 die #jouYster-toekenning as Solidariteit se ambagspersoon van die jaar ontvang.
Daar is geen rede vir boervroue en vroueboere om te wag of te pleit dat besige manne werkies in en om die huis doen nie. Pla die skewe tuinhekkie jou? Gryp die sweismasjien! Wag die foto van jou “Bul van die Jaar” nou al weke vir sy plekkie teen die muur? Gryp die boormasjien! Benodig jy ՚n mooi nuwe lamp vir die hoektafel? Bou dit self! Rozanne Herion van die Cosmo-groep se opleidingsakademie is ՚n sprekende voorbeeld van ՚n vrou wat kan!
Sy lei sweisers op en is self ՚n bobaassweiser. Verlede jaar het sy Solidariteit se gesogte toekenning as ambagspersoon van die jaar gewen. Die toekenning staan bekend as #jouYster en dié ystervrou het rede om trots te wees daarop.
Rozanne sê: “Dit is basies die top ambagspersoon oor ALLE ambagte regoor Suid-Afrika in die Solidariteit-netwerk. Ek was die eerste vrou wat die titel gewen het, asook die eerste sweiser.” Dit is ook nie haar enigste prestasie of kwalifikasie nie. Sy is ՚n geregistreerde vaktoetsassessor en moderator by die National Artisan Moderation Body (NAMB), met ander woorde sy kan bepaal of ՚n persoon kan kwalifiseer as ՚n sweiser. Sy is ook tans besig met haar Internasionale Sweisspesialiskursus by die Sweisinstituut en sal teen die einde van September kwalifiseer as internasionale sweisspesialis. Rozanne het in Sasolburg grootgeword.
“My pa was ՚n beplanner by Sigmamyn en het later oorgeslaan na onderwys. My ma was ՚n debiteure- en krediteureklerk. Ek het skoolgegaan by HTS Carel de Wet in Vanderbijlpark; ek was ook hulle eerste hoofdogter. Albei my ouers het my ondersteun en my ma het my gehelp om aansoek te doen om beurse om verder in ՚n tegniese rigting te studeer.”
Na skool het sy met ՚n Samancorbeurs Metallurgiese Ingenieurswese studeer by die Vaal Technikon (Vaal University of Technology). Al die beurse is egter gekanselleer in ՚n tydperk van resessie kort voordat sy haar diploma kon verwerf. Sy het by ՚n metallurgiese laboratorium gaan werk waar hulle sweiswerkstukke volgens standaarde getoets het.
- Rozanne is op haar gelukkigste in die werkswinkel veral saam met haar mentor, oom Oscar Brewis.
- Die opleidingspan van Cosmo met ‘n groep IIW International Welder Diploma-studente, geborg deur Air Products. Voor staan Charles Maake, Rorisa Group; Kingsley Nyatlo, Lesego Mahlanya, Tshiamo Mmutle, Lerato Malepe, Rozanne Herion en Rossouw van der Merwe een van Cosmo Group se direkteure. Agter is Silence Mashaba, Sean Young en Zodwa Tomile van Air Products; en Pierre van Nieuwenhuizen, een van Cosmo Group se direkteure.
Rozanne vertel: “Ek het aansoek gedoen by Arcelor Mittal vir hulle ingenieursopleiding om my studie klaar te maak, maar ongelukkig was ek net te laat vir die metallurgiese inname. Die persoon vra my toe hoekom volg ek nie ՚n ambag nie. Ek het sweis gekies as gevolg van my metallurgiese agtergrond. Min het ek geweet ek sal net daar my eintlike voorliefde ontdek!”
Sy het haar vakleerlingskap voltooi en as sweiser by AZAM Engineering in Meyerton gaan werk, maar dit was nie lank voordat haar talent as opleier na vore gekom het nie. Sy het ander sweisers begin help met hulle praktiese oefeninge vir kodering en is in 2015 deur City en Guilds genader om te help met die opleiding en praktiese afdeling van hulle sweis- en vervaardigingskursus. Daarna het sy by ՚n paar kolleges en skole gehelp om hulle vakleerlingskapprogramme op die been te kry voordat sy in 2023 deur Cosmo by die Olifantsfontein Artisan Academy opgeraap is.
“Ek is baie gelukkig hier by Cosmo,” sê sy. “Geen twee dae is dieselfde nie! Party dae gee ek produkopleiding, ander dae is dit praktiese koderingsopleiding. Selfs internasionale sweisers klop hier by die Cosmo Training Academy aan vir opleiding.
“Partykeer help ons van Cosmo se klante met sweisprojekte; ՚n klant het nou die dag ՚n titaan-uitlaatstelsel ingebring om reg te maak! Die meerderheid van my tyd bestee ek in die werkswinkel, waar ek op my gelukkigste is.” ՚n Groot leierfiguur in haar lewe is oom Oscar Brewis. Hy is ՚n vliegtuigelektrisiën en het sy eie boumaatskappy. Hy het onder meer die koepel in Sutherland-sterrewag se dak gebou. “Hy is my lopende Google,” sê Rozanne.
“Hy het so ՚n wye kennis van baie dinge, ek nader hom altyd. Hy is ondersteunend, help graag, maar hou ook daarvan om ՚n mens voortdurend uit te daag. Hy is al 72 en hy werk nog stof in die jonges se oë.” Hoewel sweis haar absolute voorliefde is, staan haar hande vir niks verkeerd nie. Sy kan teëlwerk doen, water en elektrisiteit aanlê en is nie bang om enigiets nuuts aan te leer nie. “՚n Mens leer ook deur droog te maak,” spot sy. In haar vrye tyd hou sy daarvan om mense met projekte te help en sy kan enige partytjie of geleentheid opkikker met kunstige versiering. Sy is ook baie lief vir kampeer en stap in die natuur.
Rozanne se droom is om vroue te bemagtig om tradisionele “manswerk” self te doen. Sy wil graag deur Cosmo begin om praktiese alledaagse dinge vir dames te leer deur middel van die aanpak van klein projekkies. Dit sal dinge insluit soos om ՚n prop te bedraad, te boor, te meet, te sny en basiese sweiswerk. “Die idee is om op ՚n Saterdag byvoorbeeld die dames te help om hulle eie wynrakkies of bedlampies te bou van begin tot einde.
“My groot droom is om my eie sentrum te besit, nie noodwendig om kwalifikasies te gee nie, maar om mense te help om dinge met hulle hande te doen soos houtwerk, juwele maak, speelgoed maak, driedimensionele drukwerk en nog meer. Mense kan dan spesifieke basiese kursusse bywoon of hulle kan ՚n maandelikse tarief betaal om die sentrum se gereedskap en mense se kennis te gebruik om hulle eie projekte te doen.” Dit is duidelik dat Rozanne graag mense wil opbou en bemagtig. Sy sê wat haar in die lewe frustreer is as mense mekaar afkraak of onderskat.
“Ek kan ook glad nie ՚n geskinder hanteer nie. Ook mense wat in ՚n posisie sit en dit nie verdien nie. Jou kennis en vaardighede moet jou posisie bepaal en niks anders nie.” In haar loopbaan kry sy dikwels met mense te doen wat twyfel aan haar vaardighede omdat sy ՚n vrou is. Sy sê: “In die begin was dit uiters moeilik, maar my hande kan die werk doen en my brein het die kennis, wat maak die res van my lyf saak? Ek laat maar net my kennis en my hande hulle verkeerd bewys. Ek het al ՚n paar dames in die rigting ook opgelei en hulle vaar baie goed.” Sy het ՚n paar staaltjies te vertel oor die reaksie van die manne se kant af as sy hulle ore aansit.
Sy sê: “Op ՚n dag was daar ՚n ouer man wat ingekom het om produkopeleiding op sy masjien te kry, veral om met aluminium te werk. Ek kon sien die man was geskok toe ek sê ek is die fasiliteerder. Ek het hom na die werkswinkel geneem, sy masjien ingeprop, elke instelling aan hom verduidelik en bygestaan tot hy self die sweiswerk kon doen. Teen die einde van die dag sê hy vir my hy moet bieg, hy was baie skepties toe hy sien hy moet by ՚n vrou leer, maar hy het nou ՚n hele kopskuif gemaak.”
Aan die vroue wat ProAgri lees het sy hierdie boodskap: “Moenie toelaat dat iemand jou in ՚n boksie probeer pak nie. Wees jou unieke self. Bewys aan hulle dat jy nie ՚n boek op sy omslag kan takseer nie. En moet nooit dat iemand jou oortuig jy kan nie, want jy is ՚n vrou. Ons is in staat tot meer as waarvoor ons onsself krediet gee. Vertou op God en kweek die vaardighede wat Hy jou gegee het. Wees die sonneblom in ՚n see van rose!”


