Categories: NewsPublished On: 9th January 2012

Ontmoet-’n-koei-duisend!

By 3 min read
579 words
Platdoorn se Kalil Zipper TW0066 is nie sommer net ’n koei nie. Dié pragtige Hereford-koei spog met ’n stamboom en prestasielys langer as jou voorarm! Sy is een van daardie klein elite groepie koeie wat met ’n Farmer’s Weekly LNR Elite Koei-toekenning kan spog. Sy is pas aangewys as die beste produserende koei in die Hereford-ras vir 2011.
 
Haar eienaar, Wessel Wessels van die Ventersburg-distrik in die Vrystaat, vertel met trots dat TW0066 agt kalwers in tien jaar gehad het. Sy het ’n gemiddelde tussenkalfperiode van 369 dae.
 
En dis nie sommer sulke kalwers nie. Die gemiddelde speenmassa van die kalwers is 247 kg en sy spog met ’n doeltreffendheidsindeks van 114. Dit sal glad nie verbasend wees as haar dogters ook op die elite-pad beland nie; dit is voorwaar in hulle gene!
 
TW0066 se ouma aan vaderskants het immers in 1999 ook die toekenning verower. Sy het na 12 kalwers in 15 jaar afgetree. Aan moederskant het TW0066 se ouma 11 kalwers in 12 jaar gehad en haar eie ma het self gespog met 9 kalwers in 12 jaar.
 
Dit is die sewende Farmers’ Weeklytoekenning wat die Platdoorn-kudde ontvang en die derde een in ’n ry.
 
Die kudde self is gereeld op die finalistelysie in die Vrystaat vir die LNR se prestasietoetskudde. In 2005 het Wessel ook ’n Bayer Platinum-toekenning ontvang vir een van sy bulle.
 
“Dit is lekker om toekennings te ontvang, want dit ondersteun jou op jou pad vorentoe, maar toekennings is nie die doel van my teelprogram nie,” sê Wessel. “My teeldoelwitte is baie eenvoudig – ek wil koeie hê wat elke jaar kalf, want dit is op die ou end wat die vleisbeesbedryf in die land nodig het.”
 
Die diere moet ook aanpasbaar wees sodat hulle oral kan presteer. Wessel vertel dat van die dogters uit sy kudde wat in ander stoeterye opgeneem is, ook al verskeie prestasies behaal het.
 
Hy boer ekstensief in die Ventersburg- omgewing op die Vrystaat se soet rooigras en vul net sy beeste se voer aan met proteïenlek in die winter en fosfaatlek in die somer. Van sy diere het al na heel ander omgewings geskuif en sommer gou aangepas.
 
Die Platdoorn-kudde is in 1960 deur sy ouers begin en Wessel het sedert 1991 die bestuur oorgeneem.
 
Hy is baie ernstig oor sy witgesigbeeste en sê dit is belangrik dat daar nie verkeerde inligting versprei word soos dat Herefords geneig is om seer oë of oogkanker te kry nie. ”Kyk hoe oud word my koeie en hoe presteer hulle… Daar is mos nie ’n manier dat hulle dit kan regkry as iets soos oogkanker ’n probleem is nie.”
 
Hy sê die soort van verkeerde negatiewe persepsie doen die ras skade aan en dit is belangrik dat dit reggestel word. Herefords is te veel werd vir die vleisbedryf in Suid-Afrika om onder stories te ly.
 
Boere wat graag genetika uit hierdie presterende kudde wil bekom, moet maar solank ’n kringetjie om die volgende datums op die kalender trek:
 
Op 27 Julie sal Wessel vier bulle beskikbaar stel vir die Ermelobulveiling en by die nasionale Hereford-veiling in Bloemfontein op 12 Augustus sal daar 3 dragtige koeie met kalwers aangebied word. Een van die koeie is ’n dogter van TW0066.
 
Ondertussen gaan TW0066 ongestoord voort met dit wat sy die beste doen – sy is weer dragtig!
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0