Categories: NewsPublished On: 12th August 2011

Ons-boer-saam:-Die-aard-en-belangrikheid-van-familie-boerderye-in-Suid-Afrika-(l)

By 5 min read
Hierdie reeks artikels word deur professor Elmarie Venter van die Departement Ondernemingsbestuur, NMMU (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit), geskryf. Haar navorsingsveld is familie-ondernemings en vraagstukke soos opvolging, die rol van die vrou, ensovoorts, en sy werk tans aan ’n boek daaroor.
Familie-ondernemings lewer ’n beduidende bydrae tot die wêreld- en Suid-Afrikaanse ekonomie. Na raming kan tussen sowat 70% en 90% van ondernemings in ontwikkelde en ontwikkelende ekonomieë as familieondernemings geklassifiseer word.
 
Die meerderheid boerderye in Suid- Afrika kan ook as familie-ondernemings geklassifiseer word.
 
Hierdie familieboerderye vorm die grondslag van die landbousektor, daarom is dit belangrik dat hierdie sektor van ons ekonomie gesond bly, want ons land se maatskaplike en ekonomiese welvaart hang in ’n groot mate van hulle af.
 
’n Boerdery word as ’n familieonderneming of ’n familieboerdery geklassifiseer indien ’n enkele familie ’n beherende aandeel in die boerdery het, twee of meer familielede regstreeks by die bedryf of bestuur van die boerdery betrokke is, en die senior geslag familielede (ouers) van voorneme is om die boerdery aan die jonger geslag van dieselfde familie (kinders) oor te dra.
 
Familielede kan ook lede van die uitgebreide familie, soos ooms, tantes, neefs, niggies en skoonfamilie insluit.
 
’n Familieboerdery is grondliggend verskillend van nie-familie-ondernemings in Suid-Afrika. Die belangrikste verskil is dat die belange van die onderneming (boerdery) nou verweef is met die belange van die familie, asook met die bloedbande, emosionele verwantskappe, eienaarskapsvraagstukke en magsverhoudinge binne ’n bepaalde familie.
 
Die vier Van Greunen-broers, Nelius, Johan, Bennie en Christie hanteer elkeen ’n vertakking van hulle uitgebreide boerdery in die Outeniekwa. Nelius sê om deel te wees van so ’n span beteken dat ’n mens nooit alleen staan nie.
’n Groot uitdaging is om familiebelange in ooreenstemming met die boerdery se sakebelange te bring. Verskille in die boerdery spoel gewoonlik oor na familieverhoudinge en omgekeerd. As die interaksie tussen die familie- en boerderybelange nie doelmatig bestuur word nie, kan dit tot ’n ernstige botsing van belange lei wat die volhoubaarheid van die boerdery benadeel.
 
Die onvermoë om die unieke karaktertrekke van ’n familieboerdery te verstaan, kan lei tot konflik, konstante (sake-) probleme en geleenthede wat misgeloop word. Dit kan nie net die onderneming benadeel nie, maar ook tot familiekonflik en twis lei.
 
Die langlewendheid van hierdie ondernemings is egter ’n groot bron van kommer. Dit is algemeen bekend dat slegs 30% familie-ondernemings suksesvol na die tweede geslag en slegs 10% na die derde geslag oorgedra word. Hoewel dié statistiek nie summier regstreeks op die Suid-Afrikaanse landbousektor van toepassing gemaak kan word nie, is dit nogtans skokkend.
 
Verskeie familieplase beland binne tien jaar nadat die jonger geslag familielede dit oorgeneem het, in die hande van vreemdelinge. Die verlies van ’n familieplaas kan ernstige maatskaplike en ekonomiese gevolge vir die betrokke familie inhou. Min families herstel van die teleurstelling en skok om ’n familieplaas te verloor.
 
Mislukking, hetsy geldelik of andersins, van ’n familieboerdery kan verskeie oorsake hê. Volgens prof Stephan van der Merwe van die Noordwes Universiteit is die volgende klassieke voorbeelde van faktore wat tot die mislukking van familieboerderye lei:
  • Gebrekkige of geen opvolgbeplanning: Een van die belangrikste redes, indien nie dié rede vir die hoë mislukkings-koers van familieboerderye, is die familie se onvermoë en onwilligheid om betyds te beplan vir eienaarskap- en bestuursopvolging. Die tekort aan geld om aan die eise van die testament en die opvolgplan te voldoen, lui die doodsklok vir menige familieboerdery.
  • Die familieboerdery is geldelik nie in staat om almal te akkommodeer nie: Dit is gewoonlik ’n probleem as meer as een kind plaas toe kom. Die boerdery sukkel geldelik en sterf ’n stadige dood.
  • Nepotisme: Familie word dikwels op grond van bloedbande in diens geneem of bevorder, eerder as op grond van bevoegdheid of toepaslike vaardighede.
  • Die sterk en dominante vader: Die vader het ’n sterk en dominante persoonlikheid. Hy doen alles alleen en gee nie sy wederhelf en kinders die geleentheid om te ontwikkel, besluite te neem en verantwoordelikheid aan te leer nie.
  • Die skielike sterfte van die vader: As veral ’n dominante vader skielik wegval, is daar groot probleme. Ná sy afsterwe sukkel sy wederhelf en jong kinders om die mas in die boerdery op te kom.
  • Rykmanskinders: Dit is die kinders van vermoënde boere wat alles kry wat hulle harte begeer. Hulle is spandabelrig en ken nie swaarkry nie. Die boerdery word mettertyd geldelik gedreineer. Skoonkinders is dikwels ook groot sondaars.
  • Konflik tussen die kinders: Ná die aftrede of afsterwe van die ouers ontstaan magstryde tussen die kinders. Dit lei tot groot konflik. Eiebelang word eerste gestel en die boerdery ly daaronder.
  • Konflik oor die testament: Konflik ontstaan oor die billikheid en die regverdigheid van die erflating.
  • Die kinders stel nie belang om te boer nie: Dit is ’n tameletjie. Dit kinders het dalk nie ’n goeie gesindheid teenoor die plaas nie, beoefen ’n suksesvolle professionele beroep of hulle voel hulle sal nie op die plaas hulle potensiaal kan verwesenlik nie.
  • Daar is net dogters: Baie vaders voel dat dogters nie bevoeg en bekwaam is om te boer nie. Hulle fokus meer daarop om die regte skoonseun te soek, in plaas daarvan om hulle dogters te ontwikkel en lief te maak vir die plaas.
 Teen hierdie agtergrond is dit dus belangrik dat die oorsake van probleme in die familieboerdery betyds geïdentifiseer word.
 
Bestuurders fokus dikwels op die simptome eerder as die oorsake van probleme. Dit het gewoonlik ’n krisisbestuursbenadering tot gevolg. Die eienaar-bestuurder moet daarom deeglik kennis dra van dié oorsake en unieke uitdagings en voorkomend optree voordat dit te laat is.
 
In die volgende paar uitgawes gaan ons kyk hoe om die unieke uitdagings van familieboerderye te bestuur.
 
Aspekte soos onder meer opvolgbeplanning, die rol van die vrou in familieboerderye, konflikhantering en eienaarskapbeplanning, sal bespreek word.
——————-
 
In die reeks:
Ons boer saam: Die belangrikheid van bestuursopvolging in ’n familieboerdery (II)
 
Verskeie familieplase beland binne tien jaar nadat die jonger geslag familielede dit oorgeneem het, in die hande van vreemdelinge. Die verlies van’n familieplaas kan ernstige sosiale en ekonomiese gevolge vir die betrokke familie inhou.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment