Onnodige aggressie: Waterwese trap kwaai klei
Dreigbriewe wat die Departement van Waterwese aan watergebruikers gestuur het, het diep teleurstelling in die departement ontlok.
Mnr Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg-distriklandbou-unie (SDLU), sê dat daar al ‘n hele paar jaar lank sonder enige sukses probeer word om die departement aan te moedig om seker te maak dat hulle administrasie op datum is.
Foutiewe rekeninge, betalings wat nie op rekeninge voorkom nie, bedrae wat gehef word vir skemawater wat nie eens verskaf kan word nie, is bloot ‘n paar van die nimmereindigende probleme van ‘n administratief onbekwame departement.
‘n Regering in verval?
Die vraag kan gevra word of die aksies van die Departement om aan waterverbruikers dreigbriewe te stuur, nie maar net nog ‘n bewys is van die totale verval van die Departement nie, sê mnr Hoffmann.
Geen verbruiker wat by ‘n diensverskaffer sou aanklop om diens sal daarvoor betaal as die verlangde diens nie gelewer word nie of indien die rekening nie korrek is nie.
Dis tog net logies dat daar nie vir die swak diens, afwesige diens of foutiewe rekeninge betaal gaan word nie. Enige redelike persoon sal dit tog aanvaar. Daarom is dit so skokkend dat ‘n regering (wat veronderstel is om die voorbeeld te stel) so blatant belastingbetalers – sy werkgewers – met soveel minagting kan behandel, sê mnr Hoffmann.
Brief aan Departement
Die SLDU het ‘n brief aan die Departement gestuur:
“U dreigemente aan verskeie van ons lede en waterverbruikers, verwys.
“Die Soutpansberg-distrikslandbou-unie neem met groot teleurstelling kennis van u voorneme om sekere watergebruikers, waarvan die rekeninge soos deur u Departement saamgestel skynbaar agterstallig is, op die Kredietburo se swartlys te plaas.
“Ons bring dit graag weer onder u aandag dat daar reeds sedert 2006 op gereelde basis met die Departement van Waterwese gesprek gevoer is in ’n poging om probleme wat daar op genoemde rekenings voorkom, reg te stel.
“Ons plaas graag die volgende op rekord:
- Volumes van kanaalwater in die Albasini-skema is nie korrek gefaktureer nie. Daar word jaarlikse sedert 2004 vertoë om regstelling gerig sonder enige sukses. Besproeiers wil graag hulle rekeninge vereffen, maar kan dit nie doen voordat u Departement nie die foute regstel nie.
- Die organisasie het by verskeie geleenthede versoek dat u aan ons sal aandui watter dienste gelewer is in ruil vir die waterbestuursheffings op boorgate en kanaalwater, tot dusver onsuksesvol.
- Heffings op boorgatonttrekkings kom neer op eensydige onteiening sonder vergoeding aangesien hierdie bronne wettiglik met private kapitaal ontwikkel en in stand gehou is onder die vorige wet van 1948. U aandag word gevra vir Artikel 25 van die Grondwet van Suid Afrika, Wet 108 van 1996.
- Die Departement kan nie geregistreerde volumes as ’n grondslag gebruik om rekeninge saam te stel nie, aangesien dit geensins ’n aanduiding is van die werklike volumes verbruik nie.
- Daar is ’n versoek tot u gerig om die waterbestuursheffing af te skryf sodat onderhandelings vir dienste gelewer aan verbruikers op ’n skoon bladsy kan begin. Terugvoer in hierdie verband word steeds afgewag.
- Verder maak ons ten sterkste beswaar teen die feit dat die dreigbriewe tydens die Desembervakansie uitgestuur is en dat ons lede, soos ons kulturele gebruik is, nie tuis was gedurende die tydperk nie. Die onbillike hantering van die uiters dringende saak word ten sterkste veroordeel.
“Ons verwys u terug na notules van vergaderings tussen TLU SA Noord en die Departement van Waterwese asook korrespondensie tot u gerig.”
Om die Departement te probeer rig en leiding te gee, word in die brief versoek dat die wetgewing of beleid waarvolgens hierdie administratiewe handeling geskied, binne 15 werksdae aan die SDLU gestuur moet word. Die bedoeling is om vir die Departement aan te dui dat hulle nie administratiewe aksies na willekeur kan uitvoer nie, maar moet hou by magtiging wat deur ‘n bepaalde prosedure aan hulle toegeken is, sê mnr Hoffmann.
Swartlys-dreigement
Die brief lui verder: “Die Soutpansberg-distrikslandbou-unie, ’n affiliasie van TLU SA Noord, asook ‘n affiliasie van TLU SA, versoek u dringend om te herbesin oor u voorneme om watergebruikers op die Kredietburo se swartlys te laat plaas.
“U aandag word gevestig op die bepalings van die Bevordering van Administratiewegeregtigheidswet (Wet no 3 van 2000).
“Dit sou dus uiters onverantwoordelik wees om met so ’n administratiewe aksie wat skynbaar nie die toets van die bepalings van wet 3 van 2000 sal kan deurstaan nie, voort te gaan.
“Verder stel u uself as amptenare bloot aan moontlike regsoptrede indien u nieteenstaande die skrywe, moedswillig sou voortgaan met die aksie aangesien daar soveel onafgehandelde sake in hierdie verband is.”
Sal praat, al help dit nie
Mnr Hoffman sê dat daar maar weer ‘n keer ‘n poging aangewend sal word om met die onbekwame Departement in gesprek te tree. Die brief lui: “Die Soutpansberg-distrikslandbou-unie versoek u dringend om gesprekke te hervat ten einde foute op rekenings reg te stel, asook om ‘n poging aan te wend om standpuntverskille ten opsigte van bestuursheffings te besleg.”
Soos die afgelope sewe jaar sal verbruikers/belastingbetalers maar weer op eie koste probeer om met die amptenare in gesprek te tree met die hoop dat daar hierdie keer aandag aan ons besware geskenk sal word.
Die brief lui voorts: “Graag word op rekord gestel dat die brief namens al die lede van die Soutpansberg-distrikslandbou-unie en dus TLU SA Noord, gerig word sonder benadeling van regte en met die opsie om later moontlike regsaksies teen u as amptenare in te stel indien u sou voortgaan met hierdie skynbaar administratief twyfelagtige optrede.
“Dit word op rekord geplaas dat Soutpansberg-distrikslandbou-unie hiermee aanvaar dat alle aksies in die verband teen ons lede laat vaar word totdat bogenoemde punte tot ons bevrediging opgelos is.
“Indien u kantoor nie binne 15 werksdae op ons skrywe reageer nie, word aanvaar dat u daarmee erken dat die dreigement teen ons lede ongeldig, administratief ongeregtig en kwaadwillig was en dat alle aksies teen ons lede met onmiddellike effek gestaak sal word.”
Die brief eindig met: “Die kantoor sien daarna uit om, soos soveel keer in die verlede, met u Departement in gesprek te tree. Die hoop word uitgespreek dat daar nou vir die eerste keer werklik sinvol na volhoubare oplossings gesoek sal word.”
Mnr Hoffman het alle lede wat sulke dreigbriewe ontvang of ontvang het, versoek om met mev Hester Bayes van die SDLU-kantoor in verbinding te tree by 015-516-3963. Sy kan die nodige ondersteuning verskaf en lede bystaan om die probleem te hanteer.
Mnr Hoffman het gesê dat dit nou meer as ooit tevore belangrik is dat lede by die grondwetlike beginsels bly. Die regering dwaal al verder af van die goeie beginsels in Hoofstuk 2 van die Grondwet. Alhoewel die Grondwet nie volmaak is nie, bevat dit waardevolle beskerming teen die swak en onderdrukkende beleid wat tans deur die regering gevolg word.