Categories: NewsPublished On: 31st May 2010

Omskep riool in ’n bate met Biosorb

By 3 min read

Vindingryke tegnologie sorg daarvoor dat boere nooit weer hoef te sukkel met verstopte of oorvol septiese tenks, of met duur suigdienste nie.

Die Biosorb geaktiveerde slikstelsel is perfek en lonend vir enigiets van so tien huishoudings af tot by hotelle en vakansie-oorde; van so 8 000 liter per dag tot meer as 500 000 liter.

Dit word in eenhede gebou, waar elke eenheid ’n volledige stelsel op sy eie is. As jou behoefte uitbrei, voeg jy bloot meer modules by.

Waar ’n septiese tenk ’n anaerobiese stelsel met ’n nare reuk en ’n klomp vastestowwe is, pomp die Biosorb-stelsel lug in die water in om mikro-organismes wat die riool verteer te onderhou. Die mikro-organismes breek alle vastestowwe tot vlokkies af, wat na onder sink.

Die mikro-organismes sorg dat die water skoon en reukloos is. Die skoon water loop oor na ’n skoonwaterkompartement, vanwaar dit vir besproeiing van enigiets behalwe groente gebruik kan word. Dit is perfek vir vrugtebome, grasperke, tuine en voergewasse vir diere.

So een keer elke drie maande onttrek jy van die oortollige, bakterie ryke slik uit die stelsel en pomp dit op jou komposhoop om baie goeie kompos te maak.

So dien die Biosorb-stelsel jou op drie maniere: Dit raak op ’n doeltreffende en bekostigbare manier van riool ontslae, dit verskaf besproeiingswater en dit help jou om eersteklas kompos te maak.

Om die stelsel op te rig is maklik: Die boer bou self die struktuur volgens planne wat Biosorb verskaf. Dis ’n eenvoudige konstruksie bestaande uit ’n betonvloer met ’n dubbele steenmuur aan die binnekant gepleister en ’n dak bo-oor nes ’n septiese tenk.

Die stelsel kan ook bogronds gebou word, maar dan moet daar ’n ondergrondse houtenk wees vanwaar die
riool na die Biosorb-stelsel gepomp word. So ’n bogrondse stelsel het nie ’n dak nodig nie, aangesien daar geen stank is nie.

Wanneer die struktuur gereed is, kom installeer Biosorb se mense die stelsel, bestaande uit ’n lugblaser, ’n spesiaal ontwerpte tussenskot wat die regte sirkulasie van riool bewerkstellig, ’n lapvanger en al die nodige pype, pompe en kleppe.

Al die toerusting wat onder die water is, is van hoëdigtheid poli-etileen of vlekvry staal gemaak en word vir tien jaar gewaarborg. Die blaser en pomp word vir ’n jaar gewaarborg, maar daar is blasers wat al vyf jaar loop sonder enige probleme.

Die geld wat jy in ses maande of ’n jaar aan rioolsuig sou spandeer, betaal die stelsel en daarna kos die Biosorb jou net die klein bietjie elektrisiteit wat die blaser en pomp gebruik.

So een keer per maand laat jy ’n werker die lapfilter skoonmaak en die water toets. Dis ’n maklike en eenvoudige taak. As daar te veel slik is, onttrek jy daarvan bloot met die verstelling van kleppe. Biosorb verskaf ’n verstaanbare handleiding en ’n toegewyde naverkoopdiens.

As jy ook jou riool in ’n bate wil omskep, praat met Ronnie Trollip by 083-625-7230 of e-pos aquac@mweb.co.za.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment