Categories: NewsPublished On: 31st May 2010

Omnia se boerepatente:Boere wys hoe met puik planne

By 3 min read

Vernuf, skranderheid en skeppende denke kenmerk die boerepatente wat vanjaar as deel van Omnia se Boerepatentekompetisie by Megaweek in Bredasdorp gepryk het.

Alhoewel daar vanjaar min deelnemers was, was die gehalte hoog en al die projekte wat ingeskryf is, is nuttige bespaarders van geld en tyd.

Omnia is verbind tot die projek en gaan dit volgende jaar uitbrei na nog meer skoue, sê die organiseerder van die wedstryd, Marinus de Beer. Dié toonbeelde van boerevernuf gryp immers ook die algemene publiek se verbeelding aan en help om ’n gunstige beeld van die boer te vestig.

Vanjaar se wenner is AJ du Toit van die plaas, Hanskraal, by Protem, met sy vernuftige kunsmismenger wat sy spuitproses sowat vyftig persent doeltreffender maak.

AJ gebruik ’n sleepspuit met ’n balk van 28 meter en sy probleem was dat die mengtyd tydens hervulling telkens meer as ’n halfuur geduur het. Soos elke boer weet, moet ’n mens die beste van gunstige toestande maak wanneer jy spuit en om so lank te moet staan en wag was net nie aanvaarbaar nie.

AJ se oplossing was om ’n menger te maak wat die mengtyd tot agt minute verkort en wat meng terwyl die spuit loop. Hy gooi bloot 500 kg kunsmis in die tenk, suig met sy pomp en pyp water uit die dam, laat hersirkuleer die water sodat drie plat pype in die tenk die inhoud deeglik in die rondte jaag en pomp die gefiltreerde mengsel teen ‘n tempo van 1 500 liter per minuut oor na sy spuit se tenk.

Die pomp word met ’n hidrouliese motor aangedryf en die menger word met ’n trekker gesleep. Jy kan nou met jou menger en mengsel tot by jou spuit ry vir hervullings. Hierdie gawe plan het vir AJ ’n koopbewys van R3 000 van Outdoor Warehouse in die sak gebring.

Jakkie le Roux van Kliprug, Bredasdorp, het die tweede prys, ’n koopbewys van R2 500, losgeslaan met sy oulike voerbakke vir skape.

Dié praktiese voerbak bestaan uit ’n pypraam wat inmekaar skuif en ’n bak van 80% Alnet-skadunet. Die konstruksie kan skarnier sodat die bak selfs op ongelyke grond altyd met al vier pote stewig op die grond staan. (Miskien moet ons Jakkie vra om ook tafels vir Wimpy te ontwerp.)

Jakkie het ook ’n voermenger van ’n ou wynkaronderstel en ’n oopgesnyde ou dieseltenk gemaak, waarmee hy konsentrate by voer inmeng volgens resepte wat hy by Voermol kry. Die menger het hom, met verf en al, net R19 500 gekos. Die bespa-ring teenoor klaargemengde voer het sy menger na net vyftien ton betaal.

Die derde prys is ’n nuttige enjinaangedrewe spuit wat Pieter Fourie van Koringberg gebou het om sy olyfbome mee te bespuit.

Vir dié taak was ’n rugsakspuit te effens en ’n nywerheidspuit te duur. Pieter het besluit om sy eie spuit presies tussen die twee te bou.

Die meeste van die onderdele het hy maar daar op die werf gehad, maar die pomp het hom R1 700 uit die sak gejaag. Party van die spuitstowwe vreet gewone metaal en daarom het hy ’n pomp van brons en vlekvry staal gekoop.

Die spuit is geskik vir alle klein aanwendings en ’n mens kan selfs ’n spuitbalk aan hom monteer om brandpaaie mee te spuit. Hy loop lekker lig op sy drie motorfietswiele (nogal met heel sportiewe vellings) en een persoon sleep hom lag-lag aan sy hingsel.

Boere regoor die land kan solank maar hulle sweismasjiene en hoekslypers aan die werk sit vir volgende jaar se boerepatente-kompetisie, sê Marinus. Puik pryse kan gewen word.

Daar is drie kategorieë waarin deelgeneem kan word, naamlik:

A: Gemodifiseerde landboutoerusting
B: Gereedskap en algemene toerusting
C: Skoliere en studente

Vir meer inligting oor Boerepatente, praat met Marinus de Beer by 083-655-0129. Besoek ookwww.omnia.co.za

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment