Omnia geenbewerkingsdag, Loskopdam: Bewaringsbewerking waarborg die boer se toekoms
Beter opbrengste teen ’n laer insetkoste, maar veral volhoubare produksie en bewaring van grond as natuurlike hulpbron, is moontlik met bewaringsbewerking. Dit is die bevinding van etlike kenners wat boere tydens onlangse boeredae, geborg deur Omnia Kunsmis, oor dié akkerboupraktyk toegelig het.
Maar bewaringsboerdery beteken volstrek nie jy moet net al jou ploeë wegsmyt en dan sal die rande in jou sak inrol nie.
Prof Alan Bennie, grondkundige van internasionale aansien en self ’n boer, sê vir die beste resultate moet ’n mens jou bewerkingsbesluite volgens jou soort grond neem:
Sanderige bogrond met minder as 6% klei: Stoppelbewerking gekombineer met diep skeurtandbewerking en beheerde spoorverkeer
Sanderige tot sandleemgrond met ’n klei-inhoud van tussen 7 en 18% en ’n swak bogrondstruktuur: Konvensionele bewerking of stoppelbewerking met ’n diepbytelploeg.
Sandkleileembogrond en vlak, klipperige grond: Konvensionele of stoppelbewerking met ’n vlakbytelploeg. Gaan geleidelik oor na geenbewerking.
Sandkleileem- tot klei-bogrond: Geenbewerking as dit ekonomies haalbaar is.
Waar geenbewerking moontlik is, hou dit die voordele in van meer doetreffende erosiebeheer, ’n meer buigsame planttyd, beter waterbewaring en hoër opbrengste.
Die hoofspreker, mnr Roberto Peiretti, is al 35 jaar by geenbewerking betrokke en boer self volgens dié beginsels in Argentinië, waar hy aanskoulike resultate behaal. Hy was twee termyne lank president van die Amerikaanse Konfederasie van Boere-organisasies vir Volhoubare Boerdery.
Tydens die boeredag het hy gesê dat bewerking en grondblootlegging een van die hoofoorsake van mensgeskepte grondagteruitgang regoor die wêreld is.
In Argentinië het hulle met ’n program van geenbewerking, stoppelbedekking, wisselbou en oordeelkundige bemesting binne tien jaar die opbrengs van graan en oliesade verdubbel.
Hy het ook foto’s gewys van ’n opbrengs van 4 ton koring per hektaar met ’n totale reënval van net 30 millimeter gedurende die groeisiklus!
Maar geenbewerking is ook ’n opsie op die regte grondsoorte in Suid-Afrika, soos Willem van der Walt van Walt Landgoed naby Settlers op hulle turfgrond bewys.
Die Van der Walts het in 1988 trapsgewys na geenbewerking begin oorskakel en boer nou nege jaar volskaals volgens dié beginsels. Hulle plant graansorgum, mielies, sonneblom, koring en katoen.
Volgens mnr Van der Walt stel geenbewerking hoë eise aan bestuur en dwing dit die boer om deurgaans skeppend te dink en op te tree, om uit sy foute te leer en om verantwoordelikheid vir die resultate te aanvaar.
Die voordele wat geenbewerking bied is beter grondvogbestuur, beter onkruidbeheer, laer insetkoste, hoër opbrengs, minder grondverdigting, verhoogde grondvrugbaarheid en volhoubaarheid.
Belangrike beginsels wat die uitslag beïnvloed is dat die stoppels tydens die stroopproses eweredig oor die land versprei moet word, dat onkruid onverbiddelik beheer moet word en die toepassing van spoorverkeer, wat beteken dat die Van der Walts al hulle werktuie se wiele uitgeskuif het om in die stroperspore te loop.
Al die sprekers het die belangrikheid beklemtoon van ’n doeltreffende planter. Geenbewerking vereis ’n swaar, stewige planter wat nie met stoppels verstop raak nie en wat regdeur die stoppels elke pit presies ewe diep en perfek gespasieer plaas.
Volgens dr Johan van Biljon, Omnia Kunsmis se hoofbestuurder: Landboudienste, is die regte bemesting en die regte toedieningstyd en -metode daarvan baie belangrik en Omnia se kundiges kan die boer daarmee help.
Vir meer inligting oor die dienste wat Omnia aan die boer lewer of om te hoor waar die Omnia-verteenwoordiger naaste aan jou is, skakel Omnia Kunsmis by 011-709-8778 of besoek www.omnia.co.za