Categories: NewsPublished On: 7th March 2011

O gaats, waar’s die pad?

By 1 min read
245 words

Besoekers wat die afgelope naweek die Clocolan Plaaskultuurfees van Ficksburg se kant af wou benader, moes ‘n ompad ry om te keer dat hulle in hierdie sloot sowat 10km van Ficksburg af, beland. Boere van die omgewing vertel dat die pad teen Januarie begin afsak het, seker maar as gevolg van die baie reën in die omgewing. Dit lyk asof die pad nie goed genoeg in die berg in geanker is nie en dit het net eenvoudig begin val.

Aanvanklik het dit gelyk of die teeroppervlak net uitrek en heelwat motoriste wat nie bedag was op die “padverskuiwing” nie, het noue ontkomings gehad. Die gat het egter dieper ingeval en die pad is ondertussen gesluit.

Verkeer word nou met ‘n 3 km-lange grondpad om die gevaardeel gelei, maar daar is groot kommer oor die tydelike oplossing, want die grondpad loop oor ‘n enkelbaanbrug wat feitlik ‘n eeu gelede nog vir waens en osse gebou is. Niemand kan voorspel hoe lank die brug nog die swaar vragmotors wat hom gebruik, sal kan dra nie. Die vragmotorbestuurders steur hulle nie veel aan kennisgewings wat die padsluiting verkondig nie, want daar word nie op die kennisgewings alternatiewe roetes aangedui nie.

TLU SA het ondertussen aangedui dat hy die saak met die owerhede gaan opneem, want dit lyk nie of daar enige aanstaltes gemaak word om die pad te herstel nie. Vir boere in die omgewing is dit ‘n noodsaaklike roete.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0