Categories: NewsPublished On: 21st October 2011

Nuwe-Yaris-behaal-beste-brandstofverbruik-in-sy-klas

By 1 min read

Die nuwe Toyota Yaris, wat volgende maand in Suid-Afrika bekend gestel word, het met sy eerste probeerslag die beste in sy klas gevaar op die jaarlikse MPG-Marathon wat onlangs in Brittanje gehou is. Die jaarlikse byeenkoms is daargestel om te wys hoe slim bestuurstegnieke motoriste kan help om geld by die brandstofpomp te bespaar.

Die Yaris het die 560 km roete met net 23,2 liter kaf gedraf. Sy algehele verbruik van 3,91 liter/100km het hom die eerste plek in sy klas besorg vir petrolaangedrewe motors wat minder as 120g/km se CO2 vrystel. Sy gemiddelde verbruik was amper 23 persent beter as sy amptelike gekombineerde verbruiksyfer van 4,8 liter/100km.

Die ingeskrewe motor is deur Toyota se VVT-i-enjin van 1,0 liter aangedryf. Dié driesilinder-enjin was ook ‘n wenner van die Internasionale Enjin van die Jaar-toekennings.

Die Yaris het danksy die voordeel van Toyota se Optimal Drive-tegnologie en sy algehele lae gewig die soort brandstof-ekonomie gelewer wat gewoonlik met kleiner en veel duurder diesel-aangedrewe motors vereenselwig word.

Die Toyota Prius het as algehele wenner in die klas vir hibriedmotors en elektriese voertuie geëindig. Die wêreld se topverkoper-hibriedmotor het ten spyte van die feit dat die marathon-roete ’n kort afstand in stadsverkeer ingesluit het, ook beter as 4 liter/100 km gevaar.

Altesaam 38 motors en paneelwaens het in vanjaar se byeenkoms in vyf klasse op ’n kombinasie van sogenaamde A- en B-paaie en snelweë regoor die Verenigde Koninkryk aan die brandstofbesparingsmarathon deelgeneem.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0