Nuwe wetgewing bedreig landbou
TLU SA het boere aangeraai om dringend ondersoek in te stel na alternatiewe verblyfmoontlikhede vir hulle werkers. Dit volg op die wetgewing oor verblyfsekerheid wat net voor Kersfees gepubliseer is. Die dagbestuur van TLU SA meen alternatiewe verblyf kan ook voordelig vir werkers wees in terme van die beskikbaarheid van klinieke, skole en begraafplase en ander dienste.
Mnr Chris van Zyl, die waarnemende hoofbestuurder van dié landbouorganisasie, meen die nuwe verblyfregkonsep bied die potensiaal dat boere nie meer doeltreffend en sinvol op hulle plase sal kan boer nie. Bowendien is die konsep besig om baie verantwoordelikhede van plaaslike owerhede na boere te verplaas.
TLU SA is tans besig om dié wet, asook die voorgestelde arbeidswetgewing te ondersoek en ‘n regsmening daaroor te kry, aangesien die wette eiendomsreg aantas en in die pad van buitelandse belegging staan.
Mnr Van Zyl sê: “Dit wil nou voorkom of van die knypendste bepalings wat in die uitgelekte groenskrif op grondhervorming vervat is, in ander wetgewing ingeskryf word. Dit het tot gevolg dat die invloed wat in die groenskrif beoog is, selfs wyer gevoel sal word aangesien dit in verskeie wette opgeneem word.”
Hy sê: “Die gepubliseerde konsepwette, saamgelees met die uitsprake van die ANC-president tydens die ANC se 99-jarige herdenking, is ‘n duidelike teken dat die skroef in die komende jaar op die boere aangedraai gaan word.”
TLU SA het ook ‘n ernstig beroep op kommersiële boere gedoen om by georganiseerde landbou aan te sluit sodat die nodige wringkrag opgebou kan word om boere se belange te beskerm. Ondertussen moet boere hulle vergewis dat hulle in lyn is met bestaande arbeidswetgewing, waarvan die belangrikste is om ‘n behoorlike dienskontrak met elke werker in plek te hê, asook ‘n dissiplinêre kode.