Categories: WielePublished On: 16th July 2018

Nuwe NISSAN MICRA kry lyf

By 4 min read
816 words

Nissan-Micra-2017-1280-2d

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Nissan Suid-Afrika het onlangs sy nuwe Micra motortjie bekendgestel  tydens die moeder van alle storms in die Kaap. Terwyl  reënvlae neergestort en stormsterk winde gewoed het, het die kleurvolle vloot nuwe Micra motortjies soos Namakwalandse vygies op ‘n pragtige herfsdag vertoon. Die nuwe model is die 5de generasie Micra en is volgens Nissan ‘n belangrike sprong vorentoe in terme van ontwerp ten einde die kleinmotorsegment te vernuwe. Gebou op die Renault Clio platform is die nuwe Micra dan ook beduidend groter as die uitgaande model. Terloops die “ou” Micra bly vir tyd en wyl beskikbaar en sal voortaan as die Micra Active te koop wees.

Die 2018 model is nie net groter en meer modern nie, maar die ontwerp van die nuwe model tref ook met ‘n meer aggressiewe aanslag en dinamiese sportiewe lyne.

Voor neig die neus grond toe met ‘n korter enjinkap en smal hoofligte wat vanaf die V-vormige Nissan sierrooster tot byna by die voorruit strek. Halogeenlampe doen diens in die hoofligte terwyl LED dagryliggies die moderne voorkoms komplimenteer. Die swart B en C-pilare skep die illusie van ‘n swewende dak terwyl die agterste deure se handvatsels in die C-pilare weggesteek word om aan die Micra ‘n sportiewe koepee-agtige 3-deur voorkoms te gee.  Uitgeboude wielboë oor die agterwiele en die drukvlerk op die agterklap versterk die nuwe Micra se sportiewe voorkoms. In geheel is die nuwe Micra se voorkoms treffend en is myns insiens die mooiste klein buks in sy segment.

Binnekant is die kajuit ‘n mengsel van moderne sportiwiteit en praktiese ergonomie. Veral die beige-en-swart kleurkombinasie is vars op die oog en bring ‘n subtiele jeugdige prettigheid na die binneruim. Tog is die afwerking gesofistikeerd terwyl die “T”ontwerp van die voorpaneel die uitleg prakties maak met skoon lyne en spasie skep vir ‘n moderne aanslag. Die skakelaars, material en afwerking  voel en vertoon duursaam. Die nuwe Micra is verbasend ruim binne, met gemaklike kop en skouer spasie vir 5 insittendes. Met die voorste sitplekke wat laag op die vloer gemonteer is, kan self die 2 meter lange rugbyslotte onder ons gemaklik inpas. Agterste insittendes het ook gemaklike beenspasie met die die bagasieruim wat 300 liter laairuimte bied. Slaan jy egter die agterste sitplekke met hulle 60/40 verdeling plat, vergroot laaikapasiteit na 1004 liter.

Nissan SA het drie modelle van die 2018 Micra plaaslik bekendgestel en ook hier stel die 2018 Micra nuwe standaarde in sy segment met basiese toerusting. Die intreevlak Visia kom standaard met LED dagryliggies, 15” wiele, ‘n agterste drukvlerk en ‘n verstelbare  stuurwiel (hoogte en teleskopies) met kontroles vir  ondermeer die klank en spoedbeheer. Sentrale sluitstelsel, ses lugsakke, spoedbeheer, ‘n stop/ry-funksie, outomatiese hoofligte, lugversorging asook ‘n radio klankstelsel is ingesluit.  ‘n USB en 12V sok asook Bluetooth koppeling sorg dat jou musiek via ‘n geheuestokkie deur die klankstelsel kan speel.

Die Acenta model kry buite 16-duim allooiwiele en voorste misligte ekstra, asook ‘n kleur raakskerm vir die klankstel en chroom aksente in die binneruim. Verder word ritinligting vertoon op ‘n klein skermpie tussen die spoedmeter en toereteller op die instrumentepaneel.

Nissan Micra

Koop jy die Acenta Plus kry jy ekstra  17 duim wiele , ‘n leeroorgetrekte stuurwiel en ratkiere asook ‘n twee-kleur “Energy Orange” (swart en oranje) binne-afwerking.

Die 7” kleurraakskerm  op die Acenta  en Acenta Plus-modelle bied ook toegang via Apple CarPlay na boodskappe, roetekaarte en musiek.

Veiligheidstelsels in die nuwe Micra sluit onder meer standaard in 6 lugsakke, ABS, EBD en Heuwel aanskakelhulp. Daar is ook IsoFix koppelpunte op die agtersitplekke en voorste passasiersitplek.

Slegs een enjin is tans beskikbaar vir al drie modelle. ‘n Turbo-aangejaagde 900cc enjin uit die Renault stall ewer 66 kW en 140 Nm se piekkrag wat, gegewe die nuwe Micra se lae gewig uitstekende krag-tot-massa verrigting en lae sleursyfer van 0,3cd, vir ‘n besonder gemaklike bestuurervaring en lae brandstofverbruik sorg. Volgens Nissan SA word ‘n 1.0 liter enjin model in 2019 by die reeks gevoeg.

Aandrywing is deur die voorwiele met behulp van ‘n 5-spoed handratkas wat gemaklik oorskakel. Tydens die bekendstellingrit deur die Kaapse Wynlande en oor Du Toitskloof se bergpas is die nuwe Micra se padhouvermoë, stabiliteit en ritgehalte tot die uiterste beproef tydens die stormagtige winterweer, swaar reën en stormsterkwinde. Die 2018 Micra se uitstekende onderstel het gesorg vir goeie stabiliteit en paddinamika anders as wat verwag kan word van ligte klein luikrugmotors. Die stuurgevoel is heerlik direk met goeie terugvoer  terwyl greep en balans deur die draaie vertroue ingeboesem het. Kortom die nuwe Micra het my verbaas en ek verstout my om te sê sal van die groter B-segment luikrue in soortgelyke omstandighede die loef afsteek!

Nissan SA verkoop die nuwe Micra met ‘n 6 jaar/150 000 km waarborg, ‘n 3 jaar/90 000 km diensplan en ‘n 24 uur padbystanddiens  standaard by die verkoopprys ingesluit.

Nissan Micra

Pryse is as volg:

Nissan Micra Visia:                          R233 500

Nissan Micra Acenta:                      R257 400

Nissan Micra Acenta Plus               R272 400

Gaan toetsbestuur gerus die nuwe Micra by jou naaste Nissan Handelaar of gaan na www.nissan.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0