Categories: NewsPublished On: 23rd August 2016

Nuwe Mahindra Scorpio S10: Kraakvars voorkoms en splinternuwe tegnologie

By 3 min read
578 words

scorpio_001_1800x1800

Mahindra Suid-Afrika het ’n heeltemal herontwerpte Scorpio S10-sportnutsvoertuig bekend gestel. Die nuweling maak van ’n geheel nuwe platform gebruik, en baat by ’n kraakvars voorkoms met dubbele, projektor-tipe halogeenligte en LUD-dagryligte, terwyl die nuweling ook met ’n lang lys gevorderde tegnologiese kenmerke spog.

Die Scorpio S10 SNV word deur Mahindra se hoog aangeskrewe mHawk-turbodieselenjin van 2,2 liter aangedryf. Die viersilinder-kragbron word aan ’n nuwe, gladwerkende vyfgang-handratkas gekoppel.

Die binneruim verteenwoordig ’n groot stap vorentoe, en maak van ’n rits gevorderde kenmerke gebruik. Daaronder tel ’n volkleur-tasskerm van ses duim, geïntegreerde satellietnavigasie, en ’n sogenaamde ‘Intellipark’-truryhulpstelsel.

Die binne-afwerking sluit by die nuwe Scorpio se hedendaagse tema aan, en bied onder meer ’n tweekleurige instrumentepaneel en deftige grys-en-blou bekleedsel. Die gevorderde instrumente skep ’n driedimensionele indruk, en bied boonop ’n volledige stel inligting.

“Nadat ons verlede jaar die nuwegeslag-XUV500-sportnutsvoertuig plaaslik bekendgestel het, is ons nou bevoorreg om die geheel nuwe, heeltemal herontwikkelde en eweneens gevorderde Scorpio S10 SNV in Suid-Afrika beskikbaar te stel,” sê Sanjoy Gupta, hoof uitvoerende beampte van Mahindra SA.

“Die Scorpio het nog altyd ’n aantreklike kombinasie van vermoë en waarde gebied, maar hierdie jongste weergawe verhoog die standaard aansienlik op alle vlakke. Alles – van die moderne vookoms en die gesofistikeerde binneruim tot die ingenieursvernuf – is heeltemal herskep en herontwikkel.

Sanjoy voeg egter by dat waarde ondanks die aansienlik verbeterde pakket steeds ’n kernelement van die Scorpio bly.

“Die 4×2-weergawe se kleinhandelsprys begin onder R285 000, terwyl die 4×4-model minder as R300 000 kos. Dit bewys dat die Scorpio steeds uitsonderlike waarde vir geld bied – ’n belangrike aspek teen die agtergrond van die huidige ongunstige ekonomiese klimaat. Ons is daarvan oortuig dat die Scorpio S10 Mahindra se toenemende rol as ’n beduidende speler in die plaaslike motormark nog verder sal uitbrei.”

Die nuwegeslag-Mahindra Scorpio S10 het ’n vars, moderne voorkoms wat die koppe laat draai, tesame met meer as ’n tikkie aggressie wat by die nuweling se taai karakter en veelterreinvermoëns pas.

GEVORDERDE TEGNOLOGIE

Die nuwe Mahindra Scorpio S10 SNV trek nie net aandag wat sy voorkoms betref nie, maar benut ook ’n rits nuwe tegnologieë. Die sigbaarste voorbeeld van die nuweling se gevorderde kenmerke is die tasskerm van ses duim wat gebruiksvriendelike toegang tot die Scorpio se inligting- en vermaakstelsel bied.

Die volkleur-tasskerm bied maklike toegang tot ’n rits kenmerke en funksies, wat onder meer satellietnavigasie en die terugspeel van CDs en DVDs insluit. Daar word ook voorsiening gemaak vir USB- en AUX-koppelings, terwyl die skerm met die druk van ’n knoppie belangrike voertuiginligting vertoon.

Die nuwe Scorpio beskik oor ’n stemgerigte waarskuwingstelsel wat waarsku wanneer ’n deur oop is, ’n sitplekgordel nie vas is nie, die remvloeistofvlak laag is, of as die brandstoftenk se reserwevlak bereik word.

Boonop bied die nuwe Scorpio S10 oor sensor-geaktiveerde kopligte en ruitveërs, terwyl ’n gevorderde banddrukmonitor voortdurend inligting oor die presiese banddruk in elke band voorsien. Die stelsel waarsku ook wanneer ’n band begin druk verloor.

Die Scorpio se klimaatbeheerstelsel bied volledig outomatiese temperatuurbeheer sonder dat dit nodig is om die waaierspoed of die temperatuurverstelling aan te pas. ’n Intelligente parkeerstelsel wat as Intellipark bekend staan gebruik vier sensors in die agterste buffer om teen hindernisse te waarsku wanneer daar agteruit gery word.

Die voorgestelde kleinhandelspryse vir die nuwe  Mahindra Scorpio S10 SNV-reeks is as volg:

Scorpio S10 4×2                     R283 995

Scorpio S10    4×4                  R299 995

Alle modelle word deur ’n waarborg van drie jaar/ 100 000 km gedek, asook ’n diensplan van drie jaar/ 60 000 km.

Bron: Mahindra

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0