Categories: NewsPublished On: 12th May 2011

Nuwe grondeise is vergesog

By 2 min read
465 words
Die landboubedryf is die afgelope 17 jaar reeds ernstig geknou deur die voortslepende grondeiseproses. Nou skep gerugte dat nuwe eise toegelaat gaan word opnuut onsekerheid, het Agri SA gesê.
 
Die landbou-organisasie het in ‘n verklaring gesê die heropening van die grondeiseproses kan  ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en voedselproduksie negatief raak. 
 
Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het sedert 1999 nie die vermoë gehad om die bestaande proses sinvol te administreer nie. Dit het duisende boere in ‘n geldelike veknorsing laat beland.  
 
Sowat 13 000 plase is as onafgehandelde grondeise in die staatskoerant gelys. Daar is nog nie betekenisvolle vordering met die prosessering van hierdie eise gemaak nie. Intussen leef dié boere in onsekerheid. 
 
Daarby sal die heropening van die grondeiseproses, ten spyte van die enorme agterstand van die bestaande eise, investering in die landboubedryf verder skade berokken. Gebiede waar baie hangende grondeise voorkom gaan reeds mank aan onsekerheid en frustrasie weens die uitgerekte proses. Die vrees bestaan dat ontwikkeling deur die private sektor in daardie gebiede geheel en al in duie sal stort.  
 
Die Kommissie op die Herstel van Grondregte se begrotingsprobleme is steeds nie opgelos nie. Die Kommissie en Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming word gevolglik by herhaling voor die hof gedaag omdat hulle nie kontrakte vir die aankoop van grond nakom nie.  
 
Indien eise vir die verlies aan grond tot voor 1913 toegelaat sou word, sal die koste vir die belastingbetaler miljarde beloop. Voor 1913 het die eienaarskap van grond baie gewissel as gevolg van stamgevegte. Stamme sou dus teen mekaar eise kon instel en die Koi-San sou die hele land kon eis.  
 
Plase wat in die grondeiseproses oorgedra is, het feitlik deurgaans verval. Die staat het nog nie daarin geslaag om die duisende plase wat oorgedra is, en waarvan die infrastruktuur vervalle is, weer produktief te kry nie. Dit sal waarskynlik meer kos as waarvoor die plase oorspronklik aangekoop is.  
 
Die meer suksesvolle grondherverdelingsprogram (vergeleke met die restitusieprogram) het ook in die noordelike provinsies feitlik tot stilstand gekom. Die plase met grondeise daarop kan nie vir herverdeling aangebied word nie. Die uiteinde is dat die grondhervormingsproses self die slagoffer van die Departement se administratiewe rompslomp en onvermoë geword het.
 
Daar is geen vooruitsig dat die bestaande grondeise binne die volgende dekade afgehandel sal wees nie. As die Departement so sukkel om die bestaande proses te bestuur, waar gaan die vermoë vandan kom om nog meer omvattende eise te hanteer, wil Agri-SA weet.
 
Die regering het in die verlede keer-op-keer teen die heropening van die proses besluit omdat dit onbekostigbaar en onbestuurbaar sou wees. Agri-SA het gesê dat hulle nou graag helderheid oor die regering se standpunt wil hê. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0