Categories: NewsPublished On: 8th July 2011

Nuwe era vir ProAgri

By 1 min read

ProAgri, die grootste landboumaandblad in Suid-Afrika, slaan ‘n nuwe blaadjie om. In ooreenstemming met die aanvraag in die bedryf, kry die tydskrif met “Tegnologie vir die boer” ‘n glansryker voorkoms met deftiger papier en meer inhoud om vir sowel kliënte as boere nog meer waarde te bied.

Annemarie Joubert, redaktrise van ProAgri, het getroue lesers verseker dat die sakemodel steeds dieselfde bly: “Soos nog altyd, sal ProAgri gratis versprei word. Ons weet boere is besige mense en ons sal, soos sedert 1994, nuus oor tegnologiese ontwikkelings in al die landbousektore na die plaas toe bring.”

‘n Nuwe, meer doeltreffende verspreidingsnetwerk is gevestig, wat ProAgri in staat stel om terug te sny op verspreidingsyfers. Dit is ook in pas met die aantal kommersiële boere in die land. 40 000 eksemplare sal voortaan gedruk en versprei word.

Verspreidingsbestuurder, Renier van Vuuren, sê alle boere sal in die eerste week van die maand hulle eksemplare van ProAgri by hulle plaaslike landbouhandelaars (die voormalige koöperasies) kan kry. Hy sê: “Ons sal dit werklik waardeer as boere ons in kennis sal stel as daar verspreidingsprobleme in sekere gebiede is.” (Skakel Paula by 012-362-2732.)

In sekere dorpe waar dit goed werk, sal ProAgri steeds, soos in die verlede, deur die Poskantoor versprei word. Boere is ook welkom om op die tydskrif in te teken teen R120 vir 12 uitgawes. Skakel gerus vir Paula.

Mev Joubert sê: “Ons vertrou dat ons met die meer bladsye, meer inhoud en beter voorkoms ‘n nog doeltreffender boodskapper tussen landbouverskaffers en hulle klante sal wees.”

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0