Categories: NewsPublished On: 21st June 2011

Nuwe denke is die sleutel om genoeg voedsel te verbou

By 2 min read
Afrika se bevolking is van die snel groeiende ter wêreld. Dit word voorspel dat die vasteland se bevolking tot 3,6 miljard mense sal toeneem voor die einde van die eeu. Om so veel mense van voedsel te voorsien is ‘n reuse uitdaging om dit sagkens te stel. Tans is daar byna ‘n miljard mense in die wêreld wat nie van voedsel seker is nie, waarvan ongeveer ‘n kwart in Afrika woon. 
 
En tog is Afrika se gunstige klimaat, grond en ander hulpbronne voldoende om hierdie uitdagings die hoof te bied – sou dit net reg aangewend word.
 
Só sê Willem Engelbrecht, bestuurder van die DuPont-onderneming, Pioneer Hi-Bred in Suid-Afrika. Hy meen die landbousektor in Afrika kan floreer as sleutel kwessies opgelos word. "Ons moet nie net meer voedsel produseer nie, maar ook die voedingswaarde van voedsel verhoog deur wetenskaplike vindingrykheid te gebruik. 
 
Om voedsel vir almal meer toeganklik en bekostigbaar te maak moet kwessies soos vervoerkoste, beter infrastruktuur en regeringsbeleid aangespreek word, sê hy.
 
Biotegnologie
 
Hy sê dat biotegnologie ‘n werkbare oplossing is om voedselproduksie in Afrika verhoog. "Ons het indrukwekkende groei van biotegnologie in Suid-Afrika oor die afgelope tien jaar gesien. In sekere gevalle het biotegnologie plaaslike boere se opbrengste met 20 tot 30% per hektaar verhoog. Boere wat op klein skaal produseer se opbrengste het met 30 tot 40% per hektaar verhoog."
 
"SA boere besef reeds die waarde van biotegnologie en hoe dit hulle winsgewendheid verhoog. Nou moet ‘n platform geskep word waar die boere in ander lande ook hulle volle potensiaal kan bereik en kan bydra tot die ekonomiese vooruitgang en volhoubaarheid van die kontinent. "
 
Super sorghum?
 
Afrika Harvest se HUB, Dr Florence Wambugu, sê DuPont en sy Afrika-vennote is vol vertroue dat hulle nog ‘n meer voedsame en verteerbare sorghum variteit gaan ontwikkel met hoë vitamien A inhoud en waarvan die yster en sink beter beskikbaar is. 
 
Die gewas sal ook meer droogte- en versuipbestand wees, sout verdraagsaam wees, kan groei in beide tropiese en gematigde gebiede en kan sorg vir drie oeste per jaar. Dit sal ook geskik wees vir voer en biobrandstof-produksie. 
 
Pioneer is optimisties dat dié projek, wat deur die Howard Buffett Navorsingstigting ondersteun word, sal lei tot tegniese ontwikkelings wat dit moontlik sal maak dat biogefortifiseerde sorghum tantiemvry aan Afrikalande beskikbaar gestel sal kan word.
 
"Uiteindelik gaan dit daaroor om gesonde kos so goedkoop moontlik op die tafel te sit" sê mnr Engelbrecht.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment