Categories: NewsPublished On: 13th May 2011

Nuus uit die melkstal

By 2 min read
461 words

Die staat gaan geld beskikbaar stel vir navorsing oor die suiwelwaardeketting en faktore wat die mededingendheid van die suiwelbedryf beïnvloed. Die Melkprodusente-organisasie skryf in sy jongste nuusbrief dat die industriële ontwikkelingsafdeling (IDD) van die Departement van Handel en Nywerheid (dti) die MPO in kennis gestel het dat die versoek vir finansiering van so ‘n ontleding goedgekeur is.

Die IDD sal nog hierdie jaar R350 000 beskikbaar stel. Die studie behoort binne drie maande te begin, aangesien die departement se aankoopprosedures vir die aanstelling van ‘n diensverskaffer gevolg moet word.

Me Barbara Bieldt, die MPO se bestuurder markbeskerming en –ontwikkeling, het gesê dat die studie krities is om die faktore wat ‘n invloed op die winsgewendheid van melkprodusente het, te identifiseer.

Daar word ook in die nuusbrief berig dat die totale uitvoere gedurende die eerste vier maande van 2011 die totale invoere oorskry het. Daar is 10 898 ton suiwelprodukte ingevoer en 12 257 ton uitgevoer. Invoere gedurende April was 50% laer as in Maart, terwyl uitvoere met 40% afgeneem het.

Volgens die MPO-ekonoom, dr Koos Coetzee, is die skerp toename in internasionale pryse die hoofrede vir die afname in invoere. Laer uitvoere is hoofsaaklik deur die tydelike sluiting van die SA-Botswana-grens as gevolg van die bek-en-klouseeruitbreking veroorsaak. Hierdie grens is nou weer oopgestel vir gepasteuriseerde produkte. Die MPO sal lede op hoogte hou van veranderinge in in- en uitvoere.

Skerp styging in produsentepryse wêreldwyd

‘n Onlangse Outlook-verslag van Dairy Australia toon dat produsentepryse in baie lande aansienlik gestyg het vergeleke met die lae pryse van die vorige jaar. Pryse in die VSA is 19% hoër, terwyl Fonterra se Nieu-Seelandse pryse 23% hoër is en EU boere 18% meer vir hulle melk ontvang. Australiese uitvoerders betaal 22% meer vir melk. Dit word toegeskryf aan ‘n toename in vraag.

Suid-Afrikaanse boere deel egter nog nie in hierdie hoër pryse nie. Volgens Stats SA, was roumelkpryse in Suid-Afrika in Maart 2011 7,5% laer as in Maart 2010.

Die MPO berig wel dat hy gedurende die afgelope week versoeke van verskeie melkkopers ontvang het vir hulp om bykomende bronne vir melk te vind, veral in die Gautengstreek. Pryse so hoog as R4,00 per liter is genoem.

Melkprodusente wat van plan is om van hulle bestaande kopers te verander, word egter gemaan om seker te maak dat die betrokke melkkopers stabiel is en dat toepaslike langtermynkontrakte met aanvaarbare prysreëlings in plek is voordat dié stap geneem word. ‘n Voorbeeld van ‘n melkleweringsooreenkoms kan op die MPO se webwerf gevind word.

Ontmoet personeel van die MPO by Nampo

Melkprodusente is ook genooi om die suiwelkompleks by Nampo, Bothaville, volgende week te besoek om personeel van The Dairy Mail, die MPO en Agri Bonus te ontmoet.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0