Noordwes-se-landboukundige-van-die-jaar-aangewys
![]() |
Prof Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, is deur die Landbouskrywers Suid-Afrika as die Noordwes Provinsie se landboukundige van die jaar aangewys.
Prof Van Schalkwyk is as die provinsiale wenner ook een van die nege kandidate wat in aanmerking kom vir die nasionale toekenning wat op 11 November in Kaapstad oorhandig sal word.
Volgens die landbouskrywers word dié toekenning aan hom gemaak vir sy kundigheid en inspireerende betrokkenheid by landbou. Hulle meen hy het bewys wat bereik kan word deur goeie beplanning en uitvoering in uiteenlopende omstandighede.
Die Landbouskrywers SA wys al vir meer as 30 jaar ‘n nasionale boer- en landboukundige van die jaar aan.
Prof Van Schalkwyk is in Februarie 2010 as rektor by die NWU-Potchefstroomkampus aangestel.
Hy is ook ‘n boer in murg en been en bedryf ‘n beesboerdery buite Dealesville in die Vrystaat.
Prof Van Schalkwyk is ’n gewilde spreker by landboukongresse en werkwinkels. Hy skryf gereeld oor landbou-sake en lewer ook die afgelope jaar ’n weeklikse radio bydrae op OFM met Pieter Möller.
“Hierdie toekenning is vir my ‘n reuse eer, en erkenning vir die harde werk wat tot dusver in die Noordwes Provinsie gedoen is. Ons het egter nog groot planne, en wil verseker dat dié provinsie se rol in landbou groter uitgekring word,” het hy gesê.
Sy betrokkenheid by talle provinsiale en nasionale instansies word hoog aangeslaan. Hy is onder andere in 2007 deur die minister van landbou as lid van die Nasionale Landboubemarkingsraad aangestel en in 2008 as die adjunkvoorsitter van die raad van die Landbank. Hy het ook vir 18 maande waargeneem as voorsitter van die raad van die Landbank. Hy is ’n konsultant vir die Wêreldbank en ander Suid-Afrikaanse instansies asook ’n spesialis in landbou- en -verwante hofsake.
As gerekende landbou-ekonoom en akademikus, het hy reeds ses akademiese boeke geskryf, sowat 70 publikasies in wetenskaplike joernale en 117 navorsing- en projekverslae gepubliseer. Hy het ook 77 referate by plaaslike konferensies en 38 by internasionale konferensies gelewer en was promotor en medepromotor vir 24 PhD- studente en studieleier of mede-studieleier vir 32 meestersgraadstudente.
Hy is tans ook die besturende direkteur van Aginfo (handeldrywend as AMT).