Categories: NewsPublished On: 5th September 2011

Noodhulp-vir-volstruisboere

By 1 min read
255 words

Die Wes-Kaapse regering het ingespring om volstruisboere van Oudtshoorn finansieel by te staan nadat nasionale befondsing opgedroog het. Mnr Gerrit van Rensburg, die provinsiale minister van Landbou, sê die bedryf kon as gevolg van voëlgriep sedert April geen volstruisprodukte uitvoer nie.

Die uitvoerverbod kos die bedryf meer as ‘n miljoen rand per maand. Internasionale riglyne dwing boere om alle volstruise op plase waar daar gevalle van voëlgriep aangeteken is, dood te maak. Sowat 33 000 volstruise is al in die Oudtshoorn-gebied uitgeroei.
 
Die nasionale regering het reeds R33 miljoen aan boere uitbetaal wat hulle volstruise moes doodmaak, maar dit het verlede week aan die lig gekom dat daar nog R17 miljoen kort wat nie deur die nasionale departement van Landbou, Vissery en Bosbou uitbetaal gaan word nie.

Die Wes-Kaapse regering het in die lig van die belang van die bedryf in die provinsie, besluit om die tekort aan te vul.   

Die voorsitter van die Begrotingsbeleidskomitee, mnr Alan Winde, sê die bedryf dra meer as ‘n miljard rand tot die ekonomie in die omgewing by en sorg vir 55 000 werksgeleenthede. Daar is aan die rolspelers in die bedryf gevra om planne te maak om uitbrekings van voëlgriep in die toekoms te probeer verhoed.

Dit is belangrik dat die volstruise op die betrokke plase so gou as moontlik doodgemaak word, want hoe gouer dit gebeur, hoe gouer kan daar weer met uitvoere begin word. Internasionale protokolle vereis ‘n drie maande wagperiode na die volstruise uitgeroei is.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0