Nog-probleme-met-Ierse-kaas
Na die beslaglegging deur Durban se Hawegesondheid van byna 22 ton Ierse cheddarkaas wat met E. Coli bakterieë besmet is, het Agri Inspec aan die MPO berig dat kleinhandelaars in Durban Ierse cheddarkaas verkoop wat nie aan die Suid-Afrikaanse etiketteringsvereistes voldoen nie.
Die MPO sê in sy weeklikse nuusbrief, die etikette dui nie die produkte se land van oorsprong of die vervaardigers se name en adresse aan nie, maar lees net ”Kerrygold cheddar". Mev Barbara Bieldt, bestuurder van markbeskerming en -ontwikkeling van die MPO, is van mening dat die etikettering ook misleidend is, omdat verbruikers nie oor die oorsprong van die produkte ingelig word nie.
Die betrokke owerhede is daarom versoek om ‘n dringende ondersoek in dié verband in te stel. Voorts het die MPO ‘n persverklaring vrygestel waarin verbruikers gemaan word om seker te maak dat hulle plaaslike cheddarkaas koop, omdat ingevoerde produkte dikwels nie aan Suid-Afrikaanse gesondheid- en kwaliteitstandaarde voldoen nie.
Op die maandelikse vergadering van die MPO en Agri Inspec is vier invoerbesendings van spesialiteitskase ook as ‘n risiko met betrekking tot moontlike ongerymdhede geïdentifiseer. Dit is gegrond op die onrealistiese lae pryse waarteen die produkte geklaar is. Agri Inspec is versoek om in-diepte ondersoeke in hierdie verband in te stel.
Na afloop van hierdie ondersoeke, sal verslae aan die ambassades van die betrokke lande en die relevante owerhede, soos die internasionale handelsadministrasiekommissie, die departement van landbou, bosbou en visserye en die Suid-Afrikaanse inkomstediens oorhandig word, sodat hulle die nodige aksiestappe kan neem.
Sjokolademelk:
Nog suiwelnuus is dat navorsing bevestig het dat sjokolademelk goed is vir atlete.Volgens die Dairyherd Network het nuwe navorsing bevestig dat sjokolade-gegeurde melk vir individuele en spansport-atlete die beste drankie na oefening is. Navorsing oor hersteldrankies is in Oktober in die Journal of Strength and Conditioning Research gepubliseer.
Die slotsom van dié navorsing was dat die koolhidraat- en proteïeninhoud van sjokolade-gegeurde melk moeë, seer spiere help herstel, terwyl die hoë waterinhoud vloeistowwe in die liggaam vervang en dehidrasie voorkom. Verder help die natrium en suiker wat melk bevat atlete om water te behou en vervang dit verlore energie, in teenstelling met water en ander sportdrankies wat slegs vloeistowwe en sommige elektroliete vervang.
Melkbokboere:
Ter aflsuiting berig die MPO dat ‘n beoordelaarskursus vir melkbokboere op 21 en 22 November op die plaas van mnr Poena van Niekerk by Brandfort gehou word. Teoretiese en praktiese aspekte van diereseleksie word ingesluit. Die bywoningskoste beloop R300 per persoon. Skakel mnr Van Niekerk by 082 893 2783 vir meer inligting en om te registreer.