Nog ‘n grote in die beesbedryf oorlede

DSC_0385
Die landboubedryf moes pas verneem van Paul Bester van ZZ2 se dood en nou is nog ‘n groot bekende en legende in die beesbedryf oorlede.
Helga Prinsloo, hoofbestuurder en lid van die Beefmaster Beestelersgenootskap se dagbestuur, is Woensdag op pad na ‘n veiling toe tragies in ‘n motorongeluk oorlede.
Helga het altyd tyd gehad vir elkeen wat haar pad gekruis het en ook van mediakant af het ProAgri altyd haar professionele vriendelikheid waardeer.
Beefmaster SA sê dit was ‘n voorreg om Helga te ken. “Jou positiwiteit, geesdrif en ywer vir jou naaste asook die Beefmaster-ras was aansteeklik! Dankie vir dit wat ons by jou kon leer.”
Jan Schoeman sê verder op Beefmaster SA se facebookblad: “Die afsterwe van Helga Prinsloo is vir ons ‘n geweldige skok en moeilik om te verwerk! Ons sal haar onthou as n vriendelike, hulpvaardige en bekwame mens wat tyd kon inruim vir almal!”
Helga (39) laat haar man, Christo, en drie kinders agter.
Haar begrafnis is Donderdag 31 Augustus 2017 by die NG Kerk Parys-Wes om 11:00.
Foto: Elaine Nieuwoudt van die Beefmasters, Tiny Smith van ProAgri en Helga Prinsloo by vanjaar se NAMPO Oesfees.