Categories: NewsPublished On: 17th January 2012

Nog-‘n-boer-aangeval

By 1 min read

‘n Bejaarde man van die Rustenburg-omgewing is Maandagnag in sy plaashuis deur vyf mans oorval. Mnr Koos Bisschoff (71) woon sedert sy vrou se dood drie jaar gelede alleen op die plaas Mooihoek deel 10 by Avondale, tussen Rustenburg en Koster.

Volgens Nuus24 is Victoria Jabard (41), sy versorger, in haar kamer deur die mans oorval en gedwing om die plaashuis se agterdeur oop te sluit.

In die huis het die aanvallers mnr Bisschoff met die geweer oor die kop geslaan, waarna hy en mev Jabard met plastiekkabels vasgebind is. Volgens kapt Adéle Myburg, polisiewoordvoerder, het hulle ook ’n plastieksak oor mev Jabard se kop getrek, waarna sy in ’n kamer toegemaak is.

Hulle het met ’n rewolwer, twee selfone, kontant en mnr Bisschoff se metaalgrys Mazda Drifter-dubbelkajuitbakkie met die registrasienommer FLG 864 NW gevlug.
Mev Jabard kon haar loswikkel en het by ‘n buurman, mnr Koos Koen, om hulp gevra.

Mnr Bisschoff het harsingskudding en het bloeding op die brein opgedoen. Volgens Henning Bisschoff, die slagoffer se seun, lei sy pa aan asbestose en het die dokters gesê as gevolg daarvan kan sy pa nie narkose kry en vir die bloeding geopereer word nie.

Hy vermoed sy pa se Duitse herdershond, Tammie, wat in die huis geslaap het, is met iets bedwelm, want volgens getuies het sy ’n ruk geblaf en toe stil geraak.

Die hond was gister lusteloos en sy is veearts toe geneem, maar geen kneusplekke was sigbaar nie.

Bron: Nuus24

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment