Categories: NewsPublished On: 27th January 2012

Nog melkboere kry meer geld

By 3 min read
586 words

Nestlé het by verskeie ander melkkopers landwyd aangesluit deur  produsenteprysverhogings met ingang van 1 Februarie 2012 aan te kondig. Nestlé-produsente sal tussen 37 en 45 sent per liter meer ontvang, op ʼn basisprys van R2,70 tot R3,10 per liter. Mnr Bertus de Jongh, HUB van die MPO, het gesê dat die melk-tot-voerprysverhouding steeds te laag is, ten spyte van onlangse prysverhogings. Hy het bygevoeg dat die MPO van mening is dat produsentepryse in die omgewing van R4,00 per liter behoort te wees vir melkproduksie om volhoubaar te wees.

Dr Koos Coetzee, MPO-ekonoom meen dat produsentepryse na verwagting in 2012 verder sal verhoog. Hy sê: “Alle markaanwysers dui op hoër produsentepryse.” Volgens dr Coetzee is die markaanwysers die gaping tussen produsente- en invoerpariteitspryse, die groei in die vraag na suiwelprodukte en verhoogde uitvoere.

Groepvorming kan werk
MPO Noord se streeksbestuur het onlangs vergader om sake van belang vir melkprodusente in die streek te bespreek. Onder leiding van mnr Joubert Fourie, voorsitter van MPO Noord, is kennis geneem van sake soos die onbevredigende stand van  melkaantekeninge. Strukturele opsies soos die vestiging van koöperatiewe strukture vir melkprodusente om hulle bedingingsmag te verbeter sal ook in 2012 op die agenda van produsentevergaderings geplaas word.

Voorts is kennis geneem van die sukses behaal deur die Lichtenburg Suiwel Organisasie (LSO) om insetkoste te verlaag deur die aankoop van produkte namens MPO lede en MPO Noord streekbestuur het weereens hulle ondersteuning vir die inisiatief bevestig. Verslae vanuit die verskillende streke het almal aangedui dat melkprodusente onder finansiële druk verkeer as gevolg van ongunstige klimaatstoestande en hoë voerkoste. Besorgdheid is uitgespreek oor die negatiewe uitwerking wat die aansienlike toename in die aantal diere wat tans geslag word op kuddegroottes het. Voorts het die vergadering saamgestem dat verdere opwaartse aanpassings in produsentepryse dringend benodig word

Boeredag te Lichtenburg
MPO Noord en Addcon bied op 21 Februarie 2012 ʼn boeredag met die tema Praktiese Kuilvoer aan. Die geleentheid sal vanaf 08:30 op mnr Sakkie Roode se plaas Doornhoek in die Lichtenburgomgewing plaasvind. Die program beloof om baie interessant en insiggewend te wees en sluit ʼn aanbieding oor die wetenskap van kuilvoer deur ʼn internasionale kenner, asook praktiese demonstrasies en produktentoonstellings in. Vir meer inligting hieroor, skakel Alta by 082-569-1409 of Christelle by 018-632-9742.

IST staan melkprodusente by
Die MPO se Instituut vir Suiweltegnologie (IST) bied verskeie dienste aan wat daarop gerig is om melkprodusente te help om boerderybesighede winsgewend te bestuur. Die IST het gesprekke met melk- en ander boere in verskeie provinsies van Suid-Afrika gevoer om te bepaal of daar ʼn behoefte bestaan aan ʼn diens om sakeplanne vir boere saam te stel. Daar is bevind dat boere dit oor die algemeen moeilik vind om finansiering vir hul boerderybesighede te verkry en dat min boere behoorlike sakeplanne het wat as basis vir leningsgoedkeuring by die kommersiële banke en ander finansiële instansies kan dien. Na aanleiding van hierdie gesprekke, bied die IST nou ʼn diens aan waarvolgens boere besoek word en omvattende beplanning van hulle boerdery-aktiwiteite gedoen en strategieë vir uitbreiding asook waardetoevoeging geformuleer en gekwantifiseer word. Boere is dan verantwoordelik vir alle direkte kostes wat die IST tydens hierdie proses aangaan. Wanneer die IST ʼn boer se besigheidsplan saamgestel het, help die organisasie ook om die leningsaansoek by ʼn finansiële instansie in te dien met die doel om ʼn lening teen die laagste moontlike rentekoers te kry. Vir meer inligting hieroor, skakel Dr Jan du Preez by 083-656-3638 of stuur ʼn e-pos aan jan.dupreez@mpo.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0