Categories: NuusPublished On: 17th May 2023

New Holland se TH7.32-teleskopiese hanteerder maak opslae by NAMPO

By 4 min read

DSC_0145

New Holland se vlae het hoog gewapper by vanjaar se 55ste NAMPO oesdag.

New Holland Landbou stel sy nuwe TH7.32-teleskopiese hanteerder bekend. Dit kan voorwerpe so hoog as 7m lig, het ‘n kapasiteit van 3,2t en bied ‘n ultra-gemaklike, ruim kajuit met ‘n volle 360° uitsig.

Dié stabiele en maklik bestuurbare masjien kan enige taak op die plaas hanteer en beskik oor 4×3 PowerShift™-transmissie, hidrouliese vloei van 140 liter/min en ‘n kragtige 98kW-enjin wat 549Nm wringkrag teen 1 500 r/min lewer.

New Holland Landbou se indrukwekkende uitstalling by die 2023 NAMPO Oesdag het verskeie opwindende nuwe aanbiedinge tentoongestel, waaronder vanjaar se grootste trekpleister: die bekendstelling van die TH7.32-teleskopiese hanteerder, ‘n nuwe toevoeging tot die maatskappy se uitgebreide reeks landboutoerusting.

Volgens Jaco du Preez, New Holland Landbou se bemarkingsbestuurder, lewer New Holland-teleskopiese hanteerders al meer as 20 jaar ‘n ongeëwenaarde lys kenmerke wat prestasie, betroubaarheid en bekostigbaarheid verseker. “Die nuwe TH7.32 is ontwerp vir toepassings soos materiaalhantering, werk op die plaaswerf en die stapel van groot bale en is die ideale keuse vir akkerbou-, gemengde plaas- en kontraktoepassings. Met sy hoë krag-tot-gewig-verhouding, wat die moeilikste take in allerlei omstandighede moontlik maak, is dit die eerste keuse vir veeleisende plaas- en kontrakoperateurs,” het hy gesê.

Verbeterde produktiwiteit

Die TH7.32 trek voordeel uit ‘n splinternuwe 4×3 PowerShift™-transmissie vir gladder ratwisseling en verrigting, wat ‘n beter bestuurservaring bied. Dit voldoen aan Vlak 3-emissiestandaarde en die verbeterde prestasie en ekonomie het verlaagde bedryfskoste tot gevolg. Daarby stel die herontwerpte kajuit nuwe standaarde vir lae geraas en voortreflike gemak.

Die beste-in-klas 600-uur diensintervalle verseker dat die masjien langer aan die werk bly. ‘n Groot eenstukkap gee volle toegang tot die enjinruimte en onderste sypanele kan oopgemaak word om nog meer toegang tot die enjin te gee. Enjinolie, waterkoelmiddel, verkoeler en die lugfilter is maklik bereikbaar en daaglikse inspeksie en dienste is eenvoudig om uit te voer.

Voortreflike gemak en ergonomie

Die nuwe TH-model beskik oor ‘n gevorderde kajuitontwerp wat verbeterde gemak, geraasonderdrukking en sigbaarheid bied vir maksimum produktiwiteit. Die nuwe LED-ligopsie kan tot 25 000 lumen gekombineerde beligtingskrag gee om nag in dag te verander en veiligheid en produktiwiteit te verhoog.

New Holland het sy gevestigde kundigheid in trekkerkajuitontwerp gebruik op dié kajuit, wat met 360°-visie spog. Die kajuit bied klasleidende ruimte en gemak en bied uitstekende algehele sigbaarheid met ‘n ongeëwenaarde uitsig oor die voorkant van die voertuig en die vurk wanneer dit heeltemal verlaag word. Hierdie ekstra sigbaarheid het ‘n groot invloed op produktiwiteit.

‘n Sitplekgemonteerde stuurstok is beskikbaar vir ergonomiese uitnemendheid wat veral moegheid bestry en die kajuit spog met ‘n helder en sigbare instrumentpaneel. Gemaklike bestuur maak al die verskil tydens lang werkskofte met ‘n uiters gerieflike, verhitte sitplek.

Verbeterde gehalte en duursaamheid

Die TH7.32-teleskopiese hanteerder beskik oor ‘n dubbele U-vormige robotgesweisde balk wat buitengewoon sterk en duursaam is. Die H-vormige onderstel het massiewe torsiesterkte en is ontwerp om in die veeleisendste toepassings te werk. New Holland gebruik die nuutste vervaardigingstegnieke in die produksielyn vir TH-modelle. Robotsweiswerk is ‘n belangrike vervaardigingsproses en verseker konsekwente gehalte tydens die onderstel- en balkkonstruksie.

Hidrouliese dempers verseker gladde terugtrekking en verlenging. Die dempers beskerm ook die balk en operateur teen gereelde stampe en skudding. Die TH7.32 is ontwerp met 40/60 gewigsverspreiding, wat die behoefte aan aangehegte teengewigte uitskakel, wat verseker dat maksimum stabiliteit en trekkrag bereik word wanneer dit gelaai word.

Uitstekende hysontwerp

Met die TH7.32 kyk die balksilinder naby die skarnierpunt agtertoe en albei silinders strek in teenoorgestelde rigtings wanneer die balk opgelig word. Hierdie “teenoorgestelde aksie”-ontwerp verbeter die beheer van die balk en die algehele stabiliteit aansienlik.

Die laer swaartekragpunt en langer 3m “hoek tot hoek” asafstandkonsep, tesame met die agter-gemonteerde balk, dien as ‘n ingeboude teenbalans wat hierdie teleskopiese hanteerder moeilik maak om te klop. Dit kan voorwerpe so hoog as 7m lig en het ‘n kapasiteit van 3,2t.

Uitstaande enjinkrag en hidroulika

Die TH 7.32 se turboaangejaagde 4,5 liter 4-silinderenjin voldoen aan Vlak 3-emissies, met uitstekende kraglewering van 98kW en 549Nm wringkrag teen 1 500 r/min, wat dit moontlik maak om enige taak gemaklik te hanteer.

Kragtige hidroulika verseker dat ‘n hoëverrigting veranderlike verplasing suierpomp ‘n maksimum van 140 liter/min lewer, wat veelsydigheid in alle toestande bied met twee opsionele voorste hidrouliese hulpafsetpunte en bykomende agterste hulplyne.

“Die New Holland TH 7.32-teleskopiese hanteerder is ‘n uitstekende keuse vir ophys en materiaalhantering op die plaas danksy groter hysvermoë, beter reikwydte, vinniger siklustyd en uitnemende beweeglikheid en stabiliteit wanneer daar met vragte gewerk word. Met al die krag en wringkrag wat ‘n boer nodig het om die moeilikste take op alle terreine te verrig, tesame met uitsonderlike brandstofdoeltreffendheid, sal hierdie nuwe model die werk vinnig en doeltreffend gedoen kry,” het Du Preez bygevoeg.

Vir meer inligting kontak: Jaco du Preez, Bemarkingsbestuurder New Holland Landbou, jacobus.du-preez@cnhind.com

Bron: New Holland

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment