Categories: NewsPublished On: 2nd June 2010

Nethuiskonstruksie kan voor en nadelige insekgetalle op kropslaai beïnvloed

By 4 min read

Nethuise is relatief goedkoper as ander beskermende strukture, en die gemak van hulle oprigting, tesame met die feit dat die boer sy eie struktuur kan ontwerp om in sy unieke behoeftes te voorsien, is ’n pluspunt.

Wanneer daar op nethuise besluit word, is dit egter belangrik om kennis daarvan te neem dat die konstruksie van so ’n struktuur ’n regstreekse invloed op die getalle en voorkoms van plaag- en voordelige insekte kan hê.

Tydens ’n studie met kropslaai in die sentrale Vrystaat, is daar byvoorbeeld bevind dat die bevolkingsdinamika (en in ’n mindere mate ook die spesie-samestelling) van plaagplantluise en voordelige lieweheersbesies tussen twee verskillende nethuise gewissel het.

Vir die studie is een van die strukture volledig met skadunet bedek (Figuur 1), terwyl ’n tweede slegs op die dak-area met skadunet bedek is (Figuur 2). Hier volg ’n paar waarnemings wat tydens die studie gemaak is.

Skadunet aan die kante van ’n volledig-bedekte struktuur sal byvoorbeeld nie die beweging van plantluise stuit nie, aangesien hierdie insekte klein genoeg is om maklik toegang tot enige normale nethuis te verkry. Soos bewys tydens die studie, is dit selfs moontlik dat plantluisgetalle hoër mag wees in ’n volledig-bedekte struktuur gedurende somermaande, terwyl dit heelwat laer kan wees in ’n gedeeltelik-bedekte struktuur tydens dieselfde tydperk.

Hoofsaaklik is dit die meer homogene omgewing en iewat hoër humiditeit in volledig-bedekte strukture wat die ont-wikkeling van sekere plantluisspesies (byvoorbeeld Acyrthosiphon lactucae) mag bevoordeel en bevorder.

So ’n gunstige omgewing kan ’n plaag baie vinnig binne ’n produksie-eenheid laat versprei. Volledig bedekte strukture maak dit ook moeiliker vir groter lieweheersbesiespesies om toegang tot die struktuur te verkry, met die gevolg dat hulle getalle in so ‘n struktuur laer kan wees.

Dit is nie ’n gewenste situasie nie, aangesien lieweheersbesies se beweeglikheid, doeltreffendheid van prooi-opsporing, en spesifiekheid teenoor plantluise as prooi, hulle ’n gewilde keuse vir die beheer van plaagplantluise maak.

Met bogenoemde in gedagte, en indien geïntegreerde plaagbeheer met behulp van natuurlike roofvyande prioriteit geniet, kan dit loon om die kant(e) van so ’n tipe struktuur gedeeltelik oop te maak tydens warmer maande (en selfs tydens spesifieke tye van die dag) om toegang vir roofvyande te vergemaklik, mits die skade van ander insekplae (soos snywurms, bolwurms en sprinkane) nie te groot is nie.

Dit is ook interessant om te noem dat larwale lieweheerbesies tydens die studie ’n hoër teenwoordigheid in die volledig-bedekte struktuur getoon het, in vergelyking met die gedeeltelik-bedekte struktuur.

’n Moontlike rede hiervoor was die laer voorkoms van roofmiere (spesifiek Anoplolepis custodiens) in die struktuur. Hulle sal die larwes van lieweheersbesies doodmaak, aangesien die larwes nie so doeltreffend kan vlug soos die volwasse kewertjies nie.

Verder sal die laer teenwoordigheid van volwasse lieweheersbesies in volledig-bedekte strukture sorg dat daar verminderende mededinging tussen hulle en die larwes is, met die gevolg dat die larwes ’n beter kans op oorlewing het. 

Laer plantluisgetalle in ’n gedeeltelik-bedekte struktuur gedurende somermaande kan aan ’n hoër teenwoor-digheid van volwasse lieweheersbesies toegeskryf word, wat baie makliker toegang tot hierdie tipe struktuur het.

Dit beteken egter nie dat gedeeltelik-bedekte strukture vry van plantluise sal wees nie. Daar is byvoorbeeld bevind dat die plantluisspesie, Nasonovia ribis-nigri, ’n hoër voorkoms in die tipe struktuur tydens die somermaande mag toon, as gevolg van die feit dat hulle verkies om in die hart van die kropslaai te voed waar hulle deur ouer blare teen roofvyande beskerm word.

Hierdie hele situasie kan egter omgekeerd wees tydens koeler maande wanneer die meeste roofvyande ’n laer teenwoordigheid toon, of totaal en al afwesig is. In so geval mag albei soorte strukture ewe veel plantluise huisves, en soms is dit selfs moontlik dat die struktuur wat in die warmer maande die meeste plantluise gehad het, nou die minste kan hê.

Dit is dus noodsaaklik dat die boer spesiale aandag aan die interaksies tussen prooi en roofvyande binne sy nethuise gee, en om in gedagte te hou dat dit ’n dinamiese stelsel is wat deurlopend aan die verander is as gevolg van sekere insekte wat teenwoordig of afwesig mag raak.

Bogaande maak dit duidelik dat klein verskille in die konstruksie van ’n nethuis die voorkoms en spesie-samestelling van plaag- en voordelige insekte kan beïnvloed, wat op hulle beurt weer beheeraksies sal gebied wat gewoonlik op plaaggetalle gegrond is.
 
aar is egter geen twyfel nie dat nethuise definitiewe voordele vir gewasproduksie inhou as gevolg van hulle verhoogde beskerming teen natuur-uiterstes. Deur slegs kennis te neem van die interaksies tussen prooi en roofvyande, kan nethuise selfs voordelig in geïntegreerde plaagbeheerstelsels gebruik word, wat ’n besparing op sekere insetkoste mag teweeg bring.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0