Categories: NewsPublished On: 4th February 2011

Nat,-maar-nie-verlore!

By 4 min read
773 words

Tonele van oorvloedige water was die afgelope paar weke oral te sien met riviere wat oor hulle walle spoel, wingerde waarvan net die toppe uitsteek en mielielande wat lyk of dit eerder ryslande moes gewees het.

Dit is pragtig om te aanskou hoe die water oor die Augrabies stroom, maar dit is minder mooi vir ’n boer om deur die modder te strompel om te sien wat van sy druiwe-oes oorgebly het.
 
Die vraag is of ‘n boer enige versekering teen waterskade kan uitneem om hom in hierdie krisistyd te help.
 
Santam Landbou is die enigste korttermynversekeraar in Suid-Afrika met 80 jaar se ondervinding in oesversekering en 91 jaar in bateversekering. Daarom het ProAgri by Santam aangeklop om inligting en raad.
 
Oesversekering
 
Mnr Johan van den Berg, bestuurderGespesialiseerde Oesversekering, sê reënskade by baie graansoorte en vrugte word gedek en daar word veral aandag gegee aan die gehalte van die produkte, soos by koring en druiwe.
 
Vloedskade is egter ’n ander kwessie. Uit die geskiedenis blyk dit dat rampvloede in Suid-Afrika maar ongeveer 1 in elke 10 tot 15 jaar voorkom. Bekende vloedjare was byvoorbeeld 1973 tot 1975, 1988/89 en 1996. Daar is dikwels kleiner, plaaslike oorstromings wat deur kleiner weerstelsels veroorsaak word, maar dit is ook nie iets wat noodwendig jaarliks gebeur nie.
 
Johan waarsku egter dat ekosisteme besig is om te verander en dat waterverspreiding anders is as vroeër:
 
“Dieselfde hoeveelheid reën wat byvoorbeeld 50 jaar gelede voorgekom het se uitwerking op watervlakke is totaal anders as wat dit tans is. Huise, geplaveide gebiede, strate, dakke en ander mensgemaakte “afloopbane” en versperrings veroorsaak dat baie meer water beskikbaar is vir afloop as jare gelede. Dit maak dat die 1 in 20- of 1 in 50-jaarvloedlyn ook nie meer geldig is nie. Uit ’n versekeringsoogpunt maak dit die risiko onbekend en ook hoër.
 
Indien die risiko te hoog is, kan dit nie meer verseker word nie.”
 
Santam Landbou bied multirisikoversekeringsprodukte aan waar opbrengste teen ‘n reeks van gevare verseker word soos droogte, reënskade, onbeheerbare peste en plae asook ander klimaatsrisiko’s.
 
Bateversekering
 
Pierre Rossouw van Santam Landbou se bate-afdeling sê wat bates soos pomptoerusting betref, is daar ook versekering beskikbaar, maar elke aansoek word op sy eie geëvalueer op grond van risiko.
 
Indien ’n boer brandversekering uitneem word daar ook voorsiening gemaak vir spesiale gevare soos storm, wind, water, hael en sneeu. In sekere gevalle kan pompe en ander toerusting wat in of langs riviere, damme of spruite geleë is, deur ’n allerisikopolis gedek word.
 
Dit is egter baie belangrik dat boere by die polisvoorwaardes moet hou en alle redelike stappe moet doen om verliese te voorkom en te beperk.
 
Wenke om vloedskade te voorkom: 
  • Landerye met sterk hellings moet liefs nie bewerk word nie en indien dit wel bewerk word, moet daar kontoerwalle en afloopbane aangebring word. 
  • Pasop vir die versoeking om landerye te na aan riviere te maak omdat die grond goed is en besproeiing maklik. Neem altyd die risiko van vloede in ag.
  • Pasop ook vir die versoeking om naweek- of vakansiehuise onder die vloedlyn te bou; die risiko is te groot.
  • Indien langtermynweervoorspellings baie reën voorspel, soos in ’n La Nina-jaar, hou die watervlakke in damme en riviere dop.
  • Speel eerder veilig en begin om pomptoerusting te verwyder sodra die eerste vloedwaarskuwings uitgereik word.
  • Praat met die plaaslike verteenwoordiger van Santam Landbou om uit te vind watter versekering moontlik is en presies wat al die voorwaardes is.
  • Versekering moet, soos enige ander landbou-inset, ekonomies sin maak.
 Wat lê voor?
 
Johan van den Berg van Santam Landbou, wat ook ’n landbouweerkundige is, meen die risiko vir verdere vloede die res van die seisoen is hoog: “Die bergingsvermoë van riviere, damme en selfs die grond is klein omdat die grond alreeds versadig is, damme oorloop en riviere in vloed is. Indien verdere reën voorkom, gaan die grootste gedeelte van die water afloop. Dit kan watervlakke baie vinnig laat styg en kitsvloede veroorsaak. Daarby is ’n sterk La Nina-verskynsel teenwoordig. Dit veroorsaak gewoonlik baie reën oor Suidelike Afrika tot ongeveer Mei.” Johan sê langtermynweervoorspellings kan vir boere van waarde wees, maar ongelukkig is die voorkomende aksies wat geneem kan word, redelik min. Nie alle El Nino-jare beteken droogte nie en nie alle La 
 
Nina-jare beteken vloede nie: “Dit is dus beter om langtermynbeplanning te doen as om op voorspellings staat te maak.”
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0