Categories: NuusPublished On: 9th October 2024

Naspeurbaarheidstelsel kry ‘n hupstoot

By 7 min read
1363 words

LITS 1

Die naspeurbaarheidstelsel sal werk met ‘n radio-merker, wat soos ‘n knopie lyk, wat aan die linkeroor van die dier geheg word, terwyl die eienaar se eie oormerker aan die regteroor geheg word. (Bron: Pixabay)

Die uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal wat maar net nie heeltemal onder beheer kom nie, het opnuut die klem geleê op die dringende behoefte aan ‘n naspeurbaarheidstelsel vir lewende hawe in Suid-Afrika.

‘n Nuwe taakspan is pas saamgestel om te werk aan die sleutelkomponente van die voorgestelde lewendehawe naspeurbaarheidstelsel.

Die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het vroeg in Oktober ‘n werksessie gehou waar rolspelers in die bedryf, asook die breër landbousektore en verteenwoordigers van die regering ‘n gefasseerde inbedryfstelling van so ‘n stelsel bespreek het.

Die werksessie is ‘n belangrike mylpaal in die daarstel van ‘n enkele, omvattende benadering tot die naspeurbaarheid van lewende hawe in die rooivleisbedryf, naamlik beeste, skape en bokke in die land.

Die inligting op die stelsel sal enige beweging van lewende hawe aanteken ten einde die integriteit van inligting deur die hele sektor te verseker.

Daar moet binne die volgende twee weke aandag gegee word aan vier kritieke aspekte, naamlik

  • Die benaming  van die naspeurbaarheidstelsel vir die bedryf;
  • Bepaling van ‘n protokol vir ‘n vasgestelde, unieke diere-identifikasienommer;
  • Vasstelling van die minimum vereistes vir die naspeurbaarheid- en databestuurstelsels;
  • Spesifikasies en vereistes vir lewende hawe identifikasie-merkers.

Die taakspan bestaan uit verteenwoordigers van die Rooivleispodusente-organisasie (RPO), SA Rooivleis,  die Nasionale Lewendehaweprodusente-organisasie (NALFA-SA), Nasionale Departement van Landbou, Cape Wools en Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), RMIS, Gendac sagtewaremaatskappy en GS1, vervaardiger van staafkode-merkers.

Hierdie verteenwoordigers sal saamwerk om te verseker die naspeurbaarheidstesel is doeltreffend, prakties en in ooreenstemming met internasionale standaarde.

Buiten beeste, is skape en bokke ook van die rooivleis-lewende hawe wat met die stelsel gemonitor sal word. (Bron: Pixabay)

LITS-SA

Die werk wat reeds vir die sogenaamde LITS-SA-stelsel in die verband gedoen is, sal by die finale stelsel ingesluit word.

Willie Clack, voorsitter van die bestaande LITS-SA-komitee, het vroeër vanjaar gesê die stelsel het voortgevloei uit die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se voorlopige dokument wat in 2017 oor ‘n stelsel vir lewende hawe identifikasie en naspeurbaarheid gepubliseer is.

Die benadering is gebaseer op die standaarde van die Wêreld-dieregesondheidsorganisasie en is in samewerking met die Universiteit van Pretoria se UP Enterprises het die besigheidsplan saamgestel. Die stelsel is in samewerking me die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) ontwikkel.

Die LITS-SA-stelsel sal eers verpligtend wees wanneer wetgewing in plek is, en dit is waaraan die nuwe komitee nou naarstiglik werk.

Die volstruisbedryf maak seder 2012 gebruik van ‘n naspeurbaarheidstelsel om siektes soos voëlgriep en Newcastelsiekte te moniteer en te beheer. (Bron: Pixabay)

Hoe sal die stelsel werk

Volgens Willie is die stelsel nie ‘n kuddebestuurstelsel nie, maar uitsluitlik bedoel om die beweging van lewende hawe te monitor.

Die staat sal verantwoordelik wees vir die toepassing van die stelsel wanneer dit wet word, maar al die produsenteverenigings sal deel wees daarvan.

Onder huidige wetgewing, wat die Wet op Identifikasie van vee word net voorsiening gemaak vir brandmerk of tatoeëring van vee, en die wetgewing, asook die Veediefstalwet en Dieregesondheidswet sal gewysig moet word om enige nuwe vereistes in te sluit. Volgens Willie kan dit nog vyf jaar duur.

Die naspeurbaarheidstelsel moet heelwat inligting bevat, soos die registrasie van al die rolspelers, wat alle eienaars van lewende hawe insluit, asook veilingskrale, voerkrale, slagpale en dierehanteerders.

Die registrasie moet ook die naam van die plaas of landbou-onderneming, die eienaar se identiteitsnommer, kontaknommer en adres waar die vee aangehou word insluit. Indien meer as een eiendom betrokke is, moet dit afsonderlik geregistreer word.

Eers dan sal die amptelike radio-frekwensie oormerkers, soos deur die departement van landbou goedgekeur, beskikbaar gestel word. Die oormerkers sal inligting bevat van die eienaar se hele kudde en die individuele dier se ras, kleur, geslag en intentingstatus vir beheerde siektes soos bek-en-klouseer insluit.

Die radio-merker, wat soos ‘n knopie lyk, sal aan die linkeroor van die dier geheg word, terwyl die eienaar se eie oormerker aan die regteroor geheg word. Die lae-frekwensie radio-oormerkers is maklik om te lees en te gebruik.

Wanneer die diere beweeg of verkoop word, sal die identifikasienommers deur die stelsel na die veilingkraal, slagpale of nuwe eienaar oorgedra word.

Die stelsel sal sertifikate vir die oordrag van eienaarskap en beweging van vee in lyn met die veediefstalwet en ‘n gesondheidsverklaring soos vereis deur die bestaande biosekerheidsmaatreëls uitreik.

Toetslopie

Die bestaande LITS-SA stelsel word tans in KwaZulu-Natal in  ‘n gebied waar bek-en-klouseer endemies is getoets. Volgens Willie is kommunale veeboere en 22 223 stuks vee in die gebied reeds op die stelsel geregistreer. Die vee is almal teen bek-en-klouseer ingeënt.

Volgens die LITS-SA-sakeplan sal die regering kommunale gebiede waar bek-en-klouseer voorkom subsidieer sodat hulle oormerkers kan bekom. Die LITSSA-stelsel se platform en databasis is gratis vir alle boere, maar hulle moet die radiomerkers self aanskaf.

Volgens Willie is die stelsel nog nie na kommersiële veeboere in aangewese bestuursgebiede wat aanvanklik identifiseer is, uitgebrei nie. “Hierdie leemte in die toepassing van die stelsel bring die billikheid en omvattende toepassing daarvan in gedrang,”

Veeboere aangeraai om die LITS-SA-stelsel te gebruik om te verseker dat hulle produkte naspeurbaar is en aan die nodige dieregesondheid en -handelstandaarde voldoen, eerder as om geld te spandeer op ander stelsels wat nie aan die nodige standaarde voldoen nie.

Volgens Willie moet veeboere seker maak dat enige naspeurbaarheidstelsels wat hulle gebruik by ICAR (International Committee for Animal Recording) geregistreer is sodat die inligting later na die LITS-SA-stelsel oorgedra kan word.

“Doeltreffende identifikasie en naspeurbaarheid van vee is ‘n integrale deel van die RED Meat Vision 2030 wat ten doel het om Suid-Afika se rooivleisbedryf as ‘n leier op die plaaslike en internasionale mark te plaas.”

Hy meen deur die stelsel te gebruik, kan Suid-Afrika bewys lewer van sy bereidwilligheid om aan die nodige standaarde en riglyne vir dieregesondheid en -handel te voldoen en dit sal oor die langtermyn bydra tot die sukses van die RED Meat Vision 2030.

“Die suksesvolle toepassing van die stelsel berus op die regering se ondersteuning en beskikbaarstelling van hulpbronne om te verseker dat ‘n omvattende stelsel vir almal geld.”

Willie sê Suid-Afrika moet die geleentheid aangryp om ‘n ongeëwenaarde vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel te vestig wat tot voordeel van dieregesondheid en veilige handel sal strek en die land se goeie naam as produsent op internasionale markte sal verseker.

Watervoëls soos kolganse wat migreer word allerweë beskou as die draers wat voëlgriep na alle wêrelddele buiten Australië versprei het. (Bron: Pixabay)

Siektebeheer

Volgens Rachelle Cloete, stigterslid van GMP Traceability Management Software en mede-ontwikkelaar van GMPBasic®-sagtewareprogram vir die identifikasie van lewende hawe en kuddebestuur, is ‘n nasionale naspeurbaarheidstelsel noodsaaklik vir die handhawing van dieregesondheid wêreldwyd.

“Mense se gesondheid word beïnvloed deur die voortgesette beskikbaarheid van diereprodukte wat veilig is vir menslike gebruik. Dit vereis die beskerming en ontwikkeling van volhoubare veeproduksie in die land. Die LITS-stelsel sal die nodige gereedskap verskaf wat nie net dieregesondheid en welvaart verseker nie, maar ook toegang tot internasionale markte.”

Baie lande vereis naspeurbaarheidselsels gebaseer op riglyne ten opsigte van die minimum sanitêre en fitosanitêre regulasies soos neergelê deur die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie. Van Suid-Afrika se buurlande, insluitend Namibië, Botswana en Eswatini (Swaziland) het reeds in ‘n mate soortgelyke stelsels in plek.

Volgens Rachelle kan die volgende funksies met die stelsel verrig word:

  • Biosekerheidsmaatreëls wat verband hou met dieregesondheid;
  • menslike gesondheid wat voortspruit uit kontak met vee en die gebruik van veeprodukte, soos voedselreste, siektes wat deur gekontamineerde voedsel oorgedra word, asook siektes wat deur diere aan mense oorgedra word, soos die voorkoms van voëlgriep na 14 mense in die suiwelbedryf in die VSA;
  • risiko-bestuursprogramme wat deur die staat of bedrywe ondersteun word;
  • Risikobestuur gedurende onvoorsiene gebeure en rampe soos oorstromings waar vinnige toegang tot eiendom en inligting oor die diere belangrik is;
  • Die bestryding van veediefstal en onwettige invoer van vee;
  • Pesbeheerprogramme; en
  • Verifiëring van inligting in die geval van aanpreeklikheid.

Volgens Rachelle is daar verskeie kommersiële sagtewareplatforms wat vrywillig deur die bedryf gebruik word. Die volstruisbedryf maak byvoorbeeld seder 2012 gebruik van ‘n naspeurbaarheidstelsel om siektes soos voëlgriep en Newcastlesiekte te beheer.

Bronverwysings

Livestock Identification and Traceability System in South Africa.pdf

Muller, C-L. (2022) Spotlight on LITS-SA: Where do we stand and how will it work? Stockfarm

https://agriorbit.com/spotlight-on-lits-sa-where-do-we-stand-and-how-will-it-work/

Steyn. T. (2024) LITS-SA: Staat moet almal help. ProAgri.com

https://proagri.co.za/lits-sa-staat-moet-almal-help/

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0