Nasionale-Skolemelkdag-suksesvol-in-die-wes-kaap-aangebied
Die Nasionale Skolemelkdag, ’n MPO (Melk Produsente Organisasie)-inisiatief, word deesdae in elke provinsie in die land aangebied. Die oogmerk van die dag is om kinders en die breër publiek van die herkoms en voordele van melk bewus te maak.
Die Wes-Kaapse MPO het die afgelope drie jaar groot sukses behaal met programme om suiwelgebruik te bevorder. Daar is in die Wes-Kaap duisende houertjies melk aan die kinders uitgedeel en praatjies aan verskillende ouderdomsgroepe kinders is gelewer.
Die Nasionale Skolemelkdag is vanjaar op 19 Oktober by Laerskool Cloetesville, Pieter Langeveld en Rietenbosch buite Stellenbosch aangebied. Mnr Bertus Theron, MPO-lid en suksesvolle suiwelboer van Darling het die meer as 2 000 leerders toegespreek.
Die MPO het gesê dat hy graag suiwelprodusente motiveer om by soortgelyke inisiatiewe in hulle eie streke betrokke te raak. Die organisasie het gesê dat boere bewusmaking van die waarde van suiwel in hulle eie hande moet neem.