Categories: NuusPublished On: 31st July 2024

NAMPO Kaap 2024 is om die draai

By 3 min read
670 words

nampo 1

NAMPO Kaap 2024 is op Vrydag, 19 Julie aan die media bekend gestel.  Tydens die geleentheid het Christiaan Neethling, oud-voorsitter, ’n terugblik gegee op die eerste Meganisasiedag wat in 1994 in die Bredasdorp-omgewing gehou is onder leiding van wyle Niel Giliomee.  Hierdie nederige begin, met 10 uitstallers het met passie en entoesiasme gegroei tot die suksesvolle NAMPO Kaap Ekspo met 34 635 besoekers en 516 uitstallers in 2023.

Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park-direksie, wat NAMPO Kaap in samewerking met Graan SA aanbied, het die sluier gelig oor wat besoekers by die vyfde aanbieding van NAMPO Kaap te wagte sal wees.

“Daar is reeds 600 staanplekke toegeken aan ongeveer 530 uitstallers en daar is steeds uitstallers op die waglys. Van die nuwe items op die NAMPO Kaap spyskaart is die Greenworks Demonstrasie Baan waar battery-aangedrewe voertuie getoets en gedemonstreer word en besoekers kan die Suid-Afrikaanse kampioen skaaphonde en hul hanteerders in aksie sien in die BKB-veesentrum waar skaaphond opleiding en kompetisies aangebied word. Die grasieuse LIpizzaner perde sal weer besoekers betower met hul passies in die Western Cape Lubricants Arena. Vanjaar se Vroueprogram in die Distinctive Choice tent en die blomme in die Voermol- en Neptun-sale sal verseker dat die vroue wat NAMPO Kaap bywoon, hul mans vra om nog ‘n bietjie langer te bly!”

Aggenbach het ook boere, plaaswerkers en leerders uitgenooi om hul patente in te skryf vir die  NAMPO Kaap Boereplanne kompetisie. Hy het ook besoekers aangemoedig om hul kaartjies aanlyn te koop by  www.ticketpros.co.za. sodoende spaar hulle nie net R20 per volwassene nie, maar spaar baie tyd omdat hulle nie in lang rye hoef te wag om toegang tot die terrein te kry nie.

Dr. Tobias Doyer, HUB, Graan SA, het die Wes-Kaapse Graanbedryf onder die vergrootglas geplaas. Volgens Doyer is die fokusareas in die graanbedryf om produksie te optimaliseer, nuwe markte te ontsluit, die voedsel stelsel te transformeer en die grond te bewaar vir toekomstige generasies. “NAMPO Kaap is die platform waar produsente en verskaffers bymekaar kom om te besin oor die koste/prys knyptang. Die uitdaging vandag is vir boere om meer te produseer met minder, en nuwe tegnologie is die sleutel tot sukses.”

Tydens NAMPO Kaap is daar 4 ha graan proewe waar verskaffer nuwe tegnologie in graanproduksie aan produsente bekend stel.  NAMPO Kaap bied ook ‘n skoleprogram waar leerders met landboutegnologie en landboubestuur dit wat hul in die klaskamer leer in praktyk toegepas kan ondervind.

Dr Ivan Meyer, Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme in die Wes-Kaap, het die implikasies wat die regering van Nasionale Eenheid vir Landbou in die Wes-Kaap inhou toegelig: “Landbou het 30 jaar van fundamentele onsekerheid beleef, maar in die RNE is landbou ‘n pilaar van ekonomiese groei en voedselsekerheid ‘n prioriteit. Landbou is die enjin van werkskepping en ekonomiese groei en daarom moet boere en plaaswerkers se stem in die parlement gehoor word.”

Volgens Meyer is bio-sekuriteit en fitosanitêre intervensies is hoog op die prioriteitslys vir beide die Nasionale Departement van Landbou en die Wes-Kaapse regering. “Gegewe die bedreiging wat bek-en-klouseer vir die beesbedryf inhou, moet vee-eienaars waaksaam bly, hul biosekuriteitsmaatreëls opskerp en alle moontlike voorsorgmaatreëls tref om te verhoed dat die siekte na die Wes-Kaap versprei.”  Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Meyer versoek om dringend aan Nasionale Minister van Landbou, John Steenhuisen, te skryf en hom te versoek om ‘n tydelike verbod op die beweging van vee na die Wes-Kaap in te stel.

Sien jou daar!
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R80 vir volwassenes en R50 vir skoolgaande kinders. Kaartjies by die hekke sal te koop wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kom gratis in. NAMPO Kaap duur van Woensdag, 11 tot Vrydag, 13 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 14 September van 08:00 – 14:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028-424-2584 / 082-896-2225 of www.overberg-info.co.za

Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2024, besoek www.nampokaapco.za, kontak Chrystal van Wyk by 028-050-1385 of stuur ‘n e-pos aan admin@expo.org.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0