Nampo bars uit sy nate
Die Nampo-oesfees wat tans by Bothaville aan die gang is, gaan waarskynlik die hoogste bywoningsyfer ooit toon, hoofsaaklik as gevolg van die vakansiedag (stemdag) in die middel van die week. Nie eers die R80 toegangsgeld vir volwassenes het die duisende besoekers afgeskrik nie.
Woensdag teen middagete, het die organiseerders van plaaslike radiostasies gebruik gemaak om ‘n beroep om mense te doen om eerder die volgende dag terug te keer, want toe staan die rye voertuie botstil vir 15 km weerskante van die Oesplaas.
Ondanks drie toegangsroetes en ‘n vergrote parkeerterrein, kon die infrastruktuur net nie die getalle hanteer nie. Daar was selfs nie eers meer plek vir vliegtuie nie. Mense vertel dat hulle vier ure lank van Orkney af tot by die hek gery het – ‘n afstand van so 40 km.
Met die uitry in die middag moes besoekers tot twee ure sukkel net om uit die parkeerterrein te kom.
Landbou-uitstallers en kosverkopers glimlag egter breed. Hoewel nie al die besoekers boere is wat noodwendig landbou-toerusting wil koop nie, het bykomstighede soos pette, t-hemde en voorskote gevlieg. Die kerke en skole met kos- en koeldrankstalletjies kon ook nie voorbly nie.
Mnr Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA sê die organisasie sal dit moet begin oorweeg om die Nampo-oesdag op ‘n Saterdag ook aan te bied.
Talle skoolkinders het ook in groepe die geleentheid bygewoon en in die bees- en skaapkompleks het boere van die geleentheid gebruik gemaak om te verduidelik wat die verskille tussen die rasse is en waarom teling so belangrik is.
Die Oesfees hou tot Vrydagmiddag aan.