‘n “Total”-hupstoot vir die Megaweekterrein
Die brandstofmaatskappy, Total SA, het sy betrokkenheid in die landboubedryf verdiep met die oprigting van ‘n vertoonlokaal op Megapark by Bredasdorp. Die uitstalsentrum was net betyds gereed vir die Agri Megaweek in September vanjaar.
Bouwerk aan die sentrum het in Maart begin. Dit is 1 000 m² groot en kan 52 uitstallers huisves. Vir ander geleenthede deur die loop van die jaar is daar sitplek vir 800 mense.
Mnr Orton King, besturende direkteur van Agri Megaweek, sê die vertoonlokaal dra by om van Megapark die “adres van landbou in die Wes-Kaap” te maak.
Mnr King sê deur die oprigting van die sentrum en ook deur sy volgehoue betrokkenheid by Agri Megaweek oor die laaste 18 jaar, lewer Total SA ‘n belangrike bydra tot landbou en landbou-ontwikkeling.
Reina Cullinan, Total SA se bemarkingsbestuurder sê die maatskappy se betrokkenheid by landbou kan teruggevoer word tot sy ontstaan in die middel 50’s. Die maatskappy het juis na Suid-Afrika gekom om in die groeiende landboubedryf te behoeftes te voorsien en het later uitgebrei na ander sektore van die ekonomie.
Me Cullinan sê: “Total Suid-Afrika het ‘n lang en vrugtevolle verhouding met landbou reg deur die land. Ons verbintenis met Agri Mega en die Megaweek lewer ‘n belangrike bydrae tot hierdie wedersyds voordelige verhouding.”