‘n-Stukkie-skaapskeerkultuur-uit-Australië
Elna Wahl van Mooikrans-perdeplaas het vir ProAgri ‘n brief aangestuur van haar dogter Antjie Kriel oor die skaapskeer-kultuur in Australië. Ons deel dit graag met u:
Onthou Ma ek het laas vertel dat die skeerspan van Bourke (sewe ure wes van hier) op pad is?
Nou ja, hulle is hier!
Die afspraak was dat hulle Sondag deur die dag sou opdaag en Maandagoggend sou wegval. Hulle het immers twaalfduisend ooie om te skeer. Uit ondervinding weet ons dat dit hulle presies dubbeld so lank neem as wat hulle self voorspel. Dus lê daar omtrent vyf weke se samesyn met die legendes van die Australiese bos vir ons voor.
Vir my, Herman en klein Elri hou hierdie tyd ‘n groot bekoring in – vir elkeen om verskillende redes. Vir Herman is dit soos oestyd: ‘n jaar se vertroeteling van die trietsigste skaap op aarde vergestalt in die hopie wol wat agterbly. Vir Elri is dit ure se vermaak in die wolhokkies, die brakke van alle soorte wat versamel in en om die skeerskuur, maar veral die lewendige musiek wat oor die reuse luidsprekers blêr vir solank daar ‘n skaap onder die lem is. Vir my is dit die atmosfeer: Daar heers ‘n kermisgees, want Weona se merino’s het alweer hulle kant gebring. Die wol is mooi en die pryse is goed – en almal weet dit. Dit is ook die enigste tyd van die jaar wat ons Weona met ander siele deel, wat ‘n welkome afwisseling is. 17 000 ha se bosveldvlakte kan eentonig raak, selfs al is jy hoe lief vir die bos.
Volgens my is die Australiese skeerder een van die interessantste mense wat daar is.
Ouma het altyd gesê so en so is nie heeltemal ons mense nie. Toe ek klein was, was ek nie seker wat sy bedoel het nie, maar toe ek my oë die eerste keer op die skeerders lê, het ek presies geweet waarvan Ouma gepraat het.
Toepaslik vir die kunstenaars wat hulle is, besit hulle ‘n vry gees en daag die eerstes eers teen Dinsdagmiddag op. Hulle het verdwaal. Daar is net een pad tussen Bourke en ons wêreld, maar daar is nie net een kroeg op die pad nie, sien. Blykbaar beskou hulle verdwaal en vashaak as dieselfde ding.
Elke skeerder kom met eie vervoer, want voertuie is belangrik – dit pas by die beeld. Almal ry utes. Ute is die afkorting vir utility vehicle, wat in SA net ‘n bakkie genoem sou word. Maar hierdie utes is van die plat, breë vierliter soort. Natuurlik met ‘n spesiale uitlaatstelsel wat ‘n Boeing sal laat skaamkry. En die wiele is sò plat dat daar slegs ‘n paar sentimeter tussen die bakwerk en die klipperige grondpad is. Natuurlik is daar agt of meer skietligte op die dak gemonteer, want hierdie is kangaroo-wêreld, jy weet. Dit verklaar ook die roo bar voor aan die neus, wat eintlik vir ‘n lorrie bedoel is. Dit maak die plat vuurwa nog platter. Op hierdie roo bar is twee antennas wat eerder lyk soos weerligafleiers. Hulle luister seker die Russe daarmee af. Maar die allerbeste vir laaste: die klankstelsel. Dit oortref selfs die uitlaatstelsel.
Hulle klim nie uit nie. Hulle verdrink eers die stompie in die droesem van die bierbottel en dan skrou hulle “How ye going, mate?” maar sonder om ‘n antwoord te verwag. Ek is lus om sy gesig met Dubbin by te kom. Sy hare maak lankal maatjies en daar is selfs vlokkies wol in van laasweek se skeersel in Bourke. ‘n Meermin en ‘n draak versier sy kaal bolyf – en natuurlik die doringdraad om die bo-arm. Op sy voorarm staan “I love Jane”.
Ek moet laag buk om deur die venster te kan praat. Langs hom sit sy partner (gelukkig is daar nie ‘n goeie Afrikaanse woord vir “dit” nie) en ek groet hoflik: “G’day Jane”. “Nay, I’m not Jane, I’m Abigael, mate.” Lyk vir my dis ‘n ou tattoo.
Woensdag is almal daar en kan die skeerdery begin. Wat ‘n skouspel! Die Bybel sê mos dat iemand wat goed is in sy vak, voor konings kan staan. Om hulle te sien werk, is om ‘n vorm van kuns te beleef. Vier goeie skeerders doen maklik ‘n duisend skape op ‘n dag. Maar dis net op ‘n goeie dag. Maandag is nie ‘n goeie dag nie, en Vrydag ook nie. Vrydag wil hulle middagete klaarmaak en dorp toe gaan. Dan word daar betaal en skuld gemaak. Die utes word opgewarm en daar trek hulle op ‘n stofstreep na die Jolly Swagman hotel.
Maandag is hartseer. So teen tienuur kom die eerste utes ingeseil. Ek buk weer laag om die draak-en meermintemmer en sy partner te groet. “G’day mate, g’day Abigael.” “Nay, I’m not Abigael, I’m Evy, mate.” Ek sal liewer nie uitwei oor waar haar rooi rosie tattoo sit nie. Al wat ek weet, is dat dit oor tien jaar soos ‘n verlepte ranonkel gaan lyk.
As jy die skeerders so kyk, dan wonder jy soms waar kom hulle vandaan. Erens is daar ook ‘n moederhart wat hulle liefhet, al lyk dit vir jou onmoontlik. Maar as jy die vroue in die span ontmoet, dan weet jy skielik waar broei skeerders uit. Net ‘n skeerder kan hulle liefhê.
So ‘n skeerspan het ook hul eie kok. – iets waaroor ek baie dankbaar is, want om vir so ‘n skeerspan te kook, is ‘n bomenslike taak. Hulle eet nie dit nie en nie dat nie, maar dit wat hulle wel eet, verorber hulle soos Siberiese wolwe. ‘n Skeerspan bestaan uit vier skeerders, ‘n klasser, twee afranders, die baalperser en die opjaer (wat die skeerskuur vol skape hou). Mary, die kok, sorg vir al die etes sowel as oggendtee en middagkoffie. Niemand mis dit ooit nie, want Mary weet wat sy doen. Dis yskoffie en koek en ander wonderlikhede. Net die mandjie met vrugte staan onaangeraak.
Herman en sy span kontrakteurs bring troppe skape vanoor die hele plaas aan skeerskuur toe, maar kry dit altyd reg om net voor koffietyd op te daag.
Mary is iemand om te ontmoet. Oë soos ‘n valk en ‘n tong soos ‘n sweep, met die pakkie Stuyvesant onder die een arm en ‘n hygroman onder die ander. Al wat geuriger is as die kos, is die taalgebruik. Mary is die onbetwiste koningin van die span. Sy word op die hande gedra en haar woord is wet. Mary gaan nie naweke saam Jolly Swagman toe, maar haar drankies vir die week word saamgebring. Al is jy die koningin, kan jy darem nie ongesellig en droëbek saans by die vuur sit nie.
Dis hierdie vuursittery saans waar jy die skeerders werklik leer ken. Ons kan nie aanhoudend die uitnodiging weier nie – hulle is immers ons gaste. Ek sit oopmond en luister na hul stories en veral hul taalgebruik. Die vergelykings is so kleurvol en so raak. So uit die bos soos hierdie mense. Soms is ek maar bly dat ek die helfte van die skertsery nie verstaan nie. Ek dink nie dis bedoel vir iemand met ‘n Calvinistiese opvoeding nie. Hulle is die afstammelinge van kru misdadigers en geniet dit om jou al die grusame besonderhede te vertel. Mense wat weet dat hulle nie in paleise gebore is nie, en wat geen behoefte het om eendag in een te woon nie. Mense wat in die sweet van hul aanskyn hul brood verdien – en dit dieselfde nag nog uitsuip, want wie weet, more sterf ons.
Maar teen die einde van die aand besef jy dat, as jy bereid is om baie, baie te slyp, jy beslis ‘n (steeds) ruwe diamant sal kry. Hulle is goeie mense wat na mekaar kyk en bymekaar staan.
As een verdwaal, verdwaal almal.
Groete
Antjie