Categories: NewsPublished On: 7th July 2016

‘n Nuusbrokkie oor jou skaaptjoppie – Boer, ontmoet jou skaapvleisverbruiker

By 5 min read

Prime rib

Beautiful Prime rib

Hierdie artikel is geskryf deur Tineil Hurter en Marina Bester vir Skaapvleis Suid-Afrika en verskyn op Cooking with Lamb.

Koerantopskrifte en nuusberigte oor verswakte wisselkoerse en stygende voedselpryse, waar rooivleis dikwels as die grootste antagonis uitgebeeld word, is genoeg om enige produsent te laat wonder “wie gaan dan my produk kan koop?”.

Die feit dat skaapvleis reeds ‘n duur produk geword het (in vergelyking met ander proteïenbronne), is ‘n werklikheid en daarom geskied Skaapvleis SA se verbruikersopvoeding hoofsaaklik deur kanale wat veral die hoër inkomste-verbruiker in Suid-Afrika bereik. Hulle is immers die verbruikers wat die produk kan bekostig maar ook dikwels meegesleur word in ‘n see van verwarrende en verkeerd-vertolkte gesondheidsboodskappe wat skaapvleis nie begunstig nie. Hierdie wanbegrippe tesame met ‘n kultuur van kitsetes sonder enige teken van skaapvleis, skets ‘n bewolkte prentjie van verbruikers wat deur ons vingers kan glip as ons nie iets doen nie.

By Skaapvleis Suid-Afrika is dit egter ons werk om skaapvleis op die verbruiker se bord te hou, ondanks al hierdie teenwerkende magte. Vir 2016 het ons dit ons hoofdoel gemaak om die verbruiker ingelig te hou, op radio en sosiale media, oor hoe om skaapvleis (selfs die goedkoper snitte) modern, gerieflik en ekonomies te benut.  Hierdie jaar kry ons ook hulp vanuit alle oorde, van slagters en restaurante tot “celebrity” braaiers en bobaas-kokke om skaapvleis, Suid-Afrika se nommer een proteïenkeuse te maak.

Wie presies is die Suid-Afrikaanse verbruiker wat ons wil bereik?  Tineil Hurter, ‘n nagraadse landbou-ekonomie navorser van die Universiteit van Pretoria, fokus tans op navorsing oor die aankoop van skaapvleis in SA en is dus die regte dame om voor te stel aan die verbruikers van u produk, trots Suid-Afrikaanse Skaapvleis.

Hoe word Suid-Afrikaanse verbruikers gedefinieer?

Wat koopkrag betref, is ons Suid-Afrikaanse bevolking een van die mees diverse bevolkings in die wêreld en ook dikwels ‘n tameletjie vir ekonome om uit te pluis.  Dit is belangrik om te verstaan dat alhoewel ons baie keer praat van die “hoër inkomste verbruiker”, ‘n verbruiker só veel meer is as net sy besteebare inkomste.  Regdeur van kulture wat oor die jare verwesters het tot persepsies oor vleis wat deur mites veroorsaak is, is daar talle onmeetbare (en ietwat onvoorspelbare) faktore wat ‘n invloed op die verbruiker het. Daar is wel sekere aspekte wat gemeet kan word en waarvolgens verbruikers geklassifiseer word om dinge te vergemaklik. Die “Living Standards Measure” (LSM) instrument is ontwikkel om diverse verbruikers met verskillende gedragspatrone só te groepeer sodat verbruikers met soortgelyke gedragspatrone saam in groepe verteenwoordig word. Die ontwikkeling van die instrument word deur ‘n reeks gebeure gestimuleer.  Die groepering van die bevolking volgens “landelik/stedelik” het as ‘n differensiëringsmetode sy waarde verloor namate die gaping tussen landelike- en stedelike markte gekrimp het. Tegelykertyd het verbruikersgedragin beide markte toenemend eenders geraak. Die Suid-Afrikaanse bevolking word volgens lewenstandaarde gegroepeer en staan as LSM-groepe bekend. LSM-groepe is onder geen omstandighede ‘n maatstaf van rasse-groepering nie en reflekteer die ware bevolkingsverdeling.

Elkeen van die groepe het ook hul eie persepsie van wat kwaliteit is en daarom is dit belangrik om te weet presies wie ‘n produk se teikenverbruiker is en wat hul behoeftes is om op die ou einde ‘n produk te produseer wat aan hul vereistes voldoen.

LSM-groepe se verdeling kan as volg vereenvoudig word:

LSM 1 – 4: Die lae-inkomste verbruiker: In 2013 het ongeveer 22% van die bevolking in LSM 1 – 4 geval met ‘n gemiddelde maandlikse inkomste van R 2 372. Die lae-inkomste groep bestee tot 50% van hulle inkomste aan kos en is dus baie pryssensitief as dit by die aankoop van voedselprodukte kom. Meeste van die verbruikers woon in landelike gebiede in tradisionele hutte of ‘shacks’, terwyl slegs 15,9% in sogenaamde “matchbox” huise woon.  Die groep het min tot geen toegang tot basiese dienste.  Die individue het ‘n bietjie blootstelling aan hoërskoolonderrig maar nie matriek nie.  Hulle kyk en luister meestal na Afrikataal radiostasies en T.V. programme.  Die groep se ouderdom wissel van 15-24 en 50+

LSM 5 – 7: Sowat 53,5% van die Suid-Afrikaanse bevolking is die middelklasverbruiker met ‘n gemiddelde inkomste van R 7 683. Die verbruikersgroep word blootgestel aan ‘n verskeidenheid media kanale.  Hulle woon in stedelike gebiede en het toegang tot alle basiese dienste.  25-49 jariges word in LSM 6 en die onderste segment van LSM 7 verteenwoordig, terwyl die hoër segment vanLSM 7 uit 25-34 jariges bestaan.  LSM 7 het minstens 1 in 7 dae toegang tot die internet.  Alle verbruikers in hierdie groep het minstens matriek alhoewel ‘n groot persentasie van hierdie groep steeds werkloos is.

LSM 8 – 10 is die hoër-inkomste verbruiker met ‘n gemiddeldde maandlikse inkomste van R 25 725. Hierdie verbruikers woon almal in stedelike gebiede.  Meeste verbruikers het matriek of ‘n hoër kwalifikasie.  Hierdie verbruikers het toegang tot die internet en alle vorme van plaaslike en internasionale media insluitend TV, radio, glanstydskrifte, elektroniese media bronne en koerante. Hierdie groep is daarom veral vatbaar vir internasionale verbruikersgiere.

Wat wil die verbruiker dan hê as dit by skaapvleis kom?

Sonder om ‘n formele studie en meningsopname te doen oor spesifiek skaapvleis, het ons bloot onsself as ‘n neutrale vleisverbruiker voorgestel en gedink wat sal dan vir ons belangrik wees wanneer ons ‘n skaapboud of -tjoppie kies. Die volgende eienskappe het dadelik uitgestaan:

  • Die skaapvleis moet vars lyk en ruik.
  • Die vleis moet ‘n mooi kleur hê.
  • Die R/kg moet binne my begroting en bereidwilligheid wees om te betaal.
  • Die verpakking moet goed en higïenies wees.
  • Dit moenie oormatig vet wees nie.

Alhoewel baie van die aspekte nie noodwendig in die produsent se beheer is nie, is daar sekerlik belangrike eienskappe en kwaliteite wat in gedagte gehou kan word. Die analise van die waardeketting is egter ‘n studie op sy eie en regverdig ‘n hele nuwe artikel vir ‘n volgende plasing. U sal egter saamstem dat baie produsente al opgemerk het dat daar ‘n omvattende nasionale studie van wat die verbruiker presies wil hê van skaapvleis benodig word.

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0