’n-Kwarteeu-bewys-Beefmaster-se-waarde
“Sjoe dit is nou vir jou ’n MENEER van ’n bul daai!”
“Ja dis Piet se Beefmaster; wat ’n BUL van ’n man!”
Boere en hulle beeste is so onafskeidbaar dat die een gebruik word om die ander te beskryf. Nêrens is die verbintenis tussen die menseras en beesras so sterk soos by die Beefmasters nie.
Die geskiedenis van die ras getuig daarvan
Net meer as ’n eeu gelede was daar ’n boer in Texas met die naam van Ed Lasater. Hy het kennis geneem van die kruiskragwaarde van die Brahman wat in daardie stadium as ras ontwikkel is uit die Amerikaanse Longhorns en Europese vleisbeestipes.
Hy het twee kuddes ontwikkel: ’n Brahman/Herefordkruising en ’n Brahman/Shorthornkruising. Ed is in 1930 dood en sy seun, Tom, wat toe maar net 20 jaar oud was, moes die bestuur van die boerdery oorneem in die middel van ’n depressie.
Die kudde wat hy geërf het was goed aangepas by die omstandighede in die suide van Texas en het oor goeie genetika beskik. Geld om bulle van buite in te koop was daar nie en Tom het begin om die beste bulle uit die een kudde op die beste koeie in die ander kudde te gebruik. Onder-steun deur ’n rewolusionêre streng seleksieprogram het die poging uitgeloop op die presterende Beefmaster.
Die seleksiebeginsels was en is nog steeds vrugbaarheid, groei, temperament, gehardheid en aanpasbaarheid, bouvorm en melkproduksie.
Die drieraskruising is in 1954 deur die Amerikaanse Departement van Landbou erken en geregistreer.
Suid-Afrikaanse boere, wat maar altyd ’n oog vir ’n goeie bees het, was nie links nie. Die eerste semen is in die laat 70’s deur Tony Brink deur Botswana in die land ingesmokkel en 500 koeie is gekies om die Beefmasterras hier te vestig.
Dit is opgevolg deur ’n aantal boere wat in die vroeë 80’s ook uit hulle pad gegaan het om Beefmaster-genetika die land in te bring, soos Paul Yiannikus, Martin Bam en Pieter Bosch, wat die eerste president van die Beefmasterklub geword het.
Dit is duidelik dat die behoefte aan Beefmaster-genetika sterker as die reëls was, want sommer gou, in 1987, het die Beefmaster-beestelersgenootskap tot stand gekom met volle erkenning deur SA Stamboek. Pieter Bosch is weer tot president verkies.
Die genootskap en die ras het van toe af met rasse skrede gegroei met natuurlik die streng toepassing van die ses seleksiebeginsels van Tom Lasater. Onder die leiding van ’n reeks toegewyde presidente en raadslede het Beefmaster die ras geword wat die vinnigste groei in Suid-Afrika. Die Genootskap het nie net ’n toekenning ontvang vir beste dienslewering nie, maar het ook baie aandag gegee aan die ontwikkeling van die mense wat by die ras betrokke is deur opleiding- en keurderskursusse.
Van 2009 af, onder leiding van die bestaande president, Piet Human, word daar ook baie klem geplaas op prestasietoetsing.
Steeds bly die slagspreuk van Tom Lasater op die voorgrond: “In culling every female that fails to wean a calf every year, regardless of the reason, we lose some good ones but we get all the lemons.”
Dit is die soort van doelgerigte bestuur wat daartoe lei dat die uitspraak, “Beefmasterkoeie is die beste”, in syfers uitgedruk kan word. Die speengewig van kalwers is ’n baie belangrike maatstaf vir die sukses van ’n ras.
’n Vergelykende tabel van rasse wat aan die LNR se Veeverbeteringskema deelneem, wys dat Beefmaster uit elf rasse spog met die hoogste speengewigverhouding, naamlik 47,2%. Die verhouding word bepaal deur die massa van die speenkalf uit te druk as ’n persentasie van die koei se gewig op speentyd, aangepas na 205 dae.
Wat ons terugbring by die belangrike verhouding tussen mens en dier – as die boer sy deel doen, betaal die Beefmaster terug met prestasie.