Categories: NewsPublished On: 1st May 2011

‘n-Kaaservaring-soos-min

By 3 min read

Die tiende SA Kaasfees wat hierdie naweek op Sandringham naby Stellenbosch gehou word bied nie net ‘n kaaservaring soos min nie, maar het ook ‘n paar wenners opgelewer. Die Fleckvieh-uitstalling het vir die derde agtereenvolgende jaar met die louere vir die beste uitstalling in die afdeling “melkfabriek” weggestap. ’n Nege maande ou beleë Fleckvieh cheddar is ook op die Kaasfees bekend gestel. Dit is die eerste Fleckvieh kaas in Suid-Afrika met ’n hoë inhoud van Omega 3 en CLA.

Op die foto is Thys Swart (Voorsitter: Wes-Kaap Simmentaler klub), Johanna Kampschulte (Bavarian Fleckvieh Genetics, München) en Jacobus Strydom (Creative Creameries ) wat die kaas gemaak het.

In aanloop tot die Kaasfees het Agri Expo ook die SA Suiwel kampioene aangewys. ‘n Aangesuurde botter van Ladismith Kaas is as 2011 se Suiwelproduk van die Jaar bekroon. Altesaam 14 uithaler-produkte is met die gesaghebbende Qualité-merk beloon, terwyl ‘n totaal van 91 suiwelprodukte as SA kampioene aangewys is.

Parmalat, een van die land se grootste suiwelprodusente, het drie Qualité-toekennings vir sy Mature Cheddar, Simonsberg Extra Mature Cheddar en sy Royalty Stracciatella Aylesbury-roomys verwerf. Lancewood Holdings en Ladismith Kaas is kort op sy hakke met twee Qualité-toekennings elk. Ander Qualité-wenners wat elk een toekenning verwerf het, sluit in Clover SA, DairyBelle, Fair Cape Dairies, Honeydew Dairies, Marcel’s Frozen Yoghurt, Puglia Cheese en Stonelees.

Dit is nie net bekende kaasmakers wat bekroon word nie: Laerskool Buffeljagsrivier se inskrywing van bokmelk maaskaas sonder byvoegings is as kampioen in hierdie kategorie aangewys. Die skool was ook tweede in die kategorie met byvoegings.

Die Kaasfees het vanjaar na ‘n groter terrein geskuif as gevolg van die immer groeiende besoekersgetalle.
"Ons bied besoekers, oud of jonk, ‘n omvattende en interaktiewe ‘van die uier tot die tafel’ ervaring," verduidelik Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, die organiseerders van die fees. "Gunstige terugvoer van borge, uitstallers en besoekers herbevestig jaarliks die welslae van die fees se nougesette benadering om kaas met ‘n element van pret saam te snoer."  Feesgangers word elke jaar aangemoedig om self ‘n koei te melk, om nuwe produkte wat by die fees bekendgestel word te proe, en om met kaas te eksperimenteer saam met van die land se voorste sjefs.

Rian van der Merwe van die Ladismith Kaasmaatskappy sê dat die fees hulle die geleentheid bied  om hul produkte op ‘n doeltreffende wyse ten toon te stel.  “Ons beskou die Kaasfees as ‘n ‘unieke verkoopspunt’ vir ons produkte aangesien daar so ‘n wye spektrum van die publiek wat kaas verbruik, hier teenwoordig is," sê hy.  "Die fees dra definitief by tot ‘n meer ingeligte kaasverbruiker wat natuurlik vir die bedryf in geheel positief is".

‘n Opname wat tydens die 2010 SA Kaasfees gedoen is, bevestig die stelling.  Resultate wys dat 86% van die 31 663 besoekers nuwe kase geproe het en dat 82% nuwe kaasmakers ontmoet het; 78% het nuwe kennis van kaas opgedoen, terwyl 92% aangedui het dat hulle ‘n groter verskeidenheid kase in die toekoms sal koop.

"En dit is presies waarvoor ons mik met die SA Kaasfees. Agri-Expo se hoofdoel is om landbou te bevorder en om verbruikers bewus te maak van die direkte verband tussen dit wat op hul bord verskyn en die land se landbouprodusente," sê Johan Ehlers.

Kontak Agri-Expo vir meer inligting by tel 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment