’n-Gids-tot-dieresiektes-in-Suid-Afrika:-Perde,-Donkies-en-Muile
![]() |
Deur Pamela Oberem
Uitgewer: Briza
ISBN 978 1 875093 95 3
Die reeks boeke oor dieresiektes deur dr Pamela Oberem wat ons oor die laaste paar maande bekend gestel het, sal sekerlik nie volledig wees sonder om ook aandag te gee aan daardie getroue mensvriend, die perd nie. Die boek oor perde, donkies en muile is reeds in 2007 uitgegee, maar is nog beskikbaar by Afrivet.
Soos in al dr Oberem se boeke word daar nie net siektetoestande hanteer nie, maar ook die versorging van die diere en die voorkoming van siektes. Daar is selfs inligting en wenke oor die aankoop van ’n perd, die bepaling van ouderdom, voeding, gewigsbepaling en perdetoerusting.
Dit is so dat daar die laaste tyd ’n oplewing in die perdebedryf was, met nuwe ryskole, terapiesentrums en allerlei perdebedrywighede wat ontstaan het.
Dit sal al hierdie mense wat by die bedrywighede betrokke is of boere wat sommer net ’n perd of twee aanhou om te help met die beesboerdery loon om hierdie boek gereed te hou. Die duidelike foto’s en beskrywings sal eienaars van perde help om ingeligte besluite te neem oor die hantering van probleme en siektetoestande.
Soos dr Oberem in haar inleiding se: “Die doel met boeke oor dieregesondheid is nie om die veearts te vervang nie, maar baie siektetoestande is voorkombaar en boeke is dus ’n waardevolle bron van inligting vir die diere-eienaar.”
Die boek hanteer ’n inentingsprogram, dosseringsprogram, parasietbeheer, algemene siektetoestande, toestande van die spysverteringstelsel, die voortplantingstelsel, die asemhalingstelsel, senuwee- en bewegingstelsel, asook oogkwale en velkwale. Die hoofstuk oor vergiftiging sal boere ook help om ontslae te raak van skadelike plante.
Die boek is beskikbaar by Afrivet teen R245 plus posgeld. Skakel 011-392-0143 vir bestellings.