‘n Fees van olywe in die Swartland
Die tweelingdorpe, Riebeekkasteel en Riebeek-wes in die Swartland bied hierdie komende naweek die elfde Riebeekvallei Olyffees aan.
Op 7 en 8 Mei word die skilderagtige dorpies omtower in ‘n mekka van gasvryheid, heerlike kos en wyn, kuns en musiek en allerlei bedrywighede. Riebeekvallei is so ‘n uur se ry van Kaapstad af, wat dit ideaal maak vir ‘n dag of naweek se wegbreek.
Die fees word deur die plaaslike gemeenskap, boere in die omgewing en Cape Town Routes Unlimited (CTRU) aangebied.
Die fees is verlede jaar aangewys as wenner in die toerisme-kategorie van die Weskus Toerisme-toekennings.
Die ster van die geleentheid is natuurlik die olyf in al sy vorme.
Daar is swart olywe en groen olywe. Ingemaakte olywe gegeur met suurlemoen, basielkruid en rissies. Olyfmarinade met ‘n titseltjie roosmaryn en knoffel of lemmetjie en bloubessie. Daar is gedroogde olywe, gerookte olywe, olyfsmeer, olyfolie, olyfkonfyt en selfs olyf-sjokolade salami. En dan is daar olywe deurtrek met die plaaslike Shiraz-wyn vir ‘n hemelse smaakervaring.
Die plaaslike wynkelders sal ook verskeie proegeleenthede aanbied. Kunsuitstallings en formele asook informele vertonings deur kunstenaars sal sorg dat besoekers besig bly.
Vir verblyfreëlings besoek www.riebeekvalley.info.