MPO hou goeie kongres
Die Melkprodusente-organisasie se nasionale kongres en gala dinee is op 21 September 2011 by die Fern Hill Hotel in die Howick-distrik gehou. Die MPO berig in sy weeklikse nuusbrief dat die formele verrigtinge op 20 September deur besoeke aan die plase van mnre Walter en Bruce McKenzie en René Stubbs voorafgegaan is. Die besoekers was verras en veral beïndruk deur die kalfgrootmaakmetode en behuising wat op hierdie plase gebruik word.
Die kongres is deur meer as 130 mense bygewoon, wat ‘n rekordgetal vir hierdie geleentheid is oor die afgelope paar jare. Die aanbiedings deur die kongressprekers was van ‘n hoë gehalte en insiggewend. Die teenwoordiges was dit eens dat die algehele boodskap een van hoop en positiewe vooruitsigte was, veral vir agri-besighede in Suid-Afrika en Afrika. Die gala dinee was ‘n ontspannende, genotvolle geleentheid en die gasspreker, mnr Gary Teichman, het ‘n spesiale rol gespeel.
Bestuur word verkies
Die lede van die MPO-direksie het mnr Dèan Kleynhans Woensdag eenparig as voorsitter van die MPO vir ‘n volgende termyn herverkies. Mnr Joubert Fourie het as ondervoorsitter bedank en mnr Tom Turner, president van MPO KZN, is as die nuwe ondervoorsitter verkies. Mnre Edsel Hohls en Gareth (Tigger) Bryden van MPO KZN is tot die MPO-direksie verkies in die plekke van mnre Horst Hellberg en Mike Black, wat albei uit die direksie aftree.
Die MPO het die manne geluk gewens met hulle verkiesing in hulle onderskeie posisies en hulle geprys vir hulle gewilligheid om tot die groei en welsyn van die primêre suiwelbedryf by te dra. Die MPO het ook hulde gebring aan die aftredende direksielede, mnre Koos Pienaar, Mike Black en Horst Hellberg, vir die toewyding waarmee hulle ‘n aansienlike bydrae tot die bevordering van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf gemaak het.
Lewenslange bydrae gehuldig
Mnr John Bredin, wat in 1969 die familiesuiwelplaas naby Ixopo op die ouderdom van 22 met die afsterwe van sy pa oorgeneem het, het die gesogte MPO-merietetoekenning vir lewenslange bydrae tot die suiwelbedryf op die gala dinee ontvang.
Mnr Bertus de Jongh, MPO HUB, het gesê mnr Bredin is ‘n staatmaker in die suiwelbedryf en inspireer sy mede-melkprodusente en ander rolspelers in die bedryf met sy betrokkenheid en toewyding. Bykomend tot die feit dat mnr Bredin ‘n aktiewe melkprodusent is, het hy ook die primêre suiwelbedryf op verskeie nasionale en internasionale geleenthede verteenwoordig en dien op verskeie rade. Hy is ook tans die voorsitter van Clover SA.
Nuusmaker van die Jaar gekroon
Mnr Jeff Every, uitvoerende hoof van Amadlelo Agri, het die The Dairy Mail Nuusmaker van die Jaar toekenning ontvang. Me Liza Bohlmann, redaktrise van The Dairy Mail, het gesê mnr Every het ‘n nuuswaardige bydrae tot die suiwelbedryf gemaak deur ‘n aansienlike verskil in die lewe van melkprodusente te maak en ‘n toekoms vir nuwe toetreders tot die suiwelbedryf te bou. Verskeie artikels wat Amadlelo se suksesse en vennootskap met Fort Hare Universiteit beskryf, het die profiel van die suiwelbedryf se bydrae tot nasiebou verhef.
Verslag van die direksievergadering
Die MPO direksie het op sy laaste vergadering vir 2011 verskeie belangrike aangeleenthede bespreek soos die herstrukturering van die MPO in lyn met die veranderende behoeftes van die primêre suiwelbedryf. Die verandering sluit in die afname van die grootte van die nasionale suiwelkudde met soveel as 10% deur slagtings as gevolg van lae produsentepryse, hoë koste van insette soos elektrisiteit, suiwelmeel en mielies en die effek van siekte-uitbrake op die winsgewendheid en volhoubaarheid van die bedryf in sy geheel.
Voorts het in-diepte besprekings plaasgevind ten opsigte van die regverdiging van voortgehoue lidmaatskap en ondersteuning van Melk SA deur die MPO. ‘n Komitee is aangewys om ondersoek in te stel in hierdie verband en terug te rapporteer by die volgende direksievergadering geskeduleer vir 23 Februarie 2012.
Skolemelk by Megaweek
Op die Agri Megaweek 2011 wat vanaf 14 to 16 September in Bredasdorp plaasgevind het, het die MPO Wes-Kaap in samewerking met Parmalat en die NMMU (Nelson Mandela Metropolitan Universiteit) ‘n baie suksesvolle skolemelkprogram gereël. ‘n Interessante ouderdom-spesifieke voorlegging is deur Me Maryna Lehmann-Maritz van die NMMU by die Parmalat skoletent aangebied waar leerlinge ingelig is oor die suiwelwaardeketting, die gesondheidsvoordele wat suiwel inhou asook loopbaangeleenthede binne die suiwelbedryf. Ongeveer 1 200 kinders het elk ‘n Suiwelinkleurboekie ontvang asook ‘n gegeurde melkie wat deur Parmalat geborg is.