Categories: NewsPublished On: 27th October 2011

Moenie onetiese gedrag verdra nie

By 2 min read

Boere moenie onetiese gedrag verdra nie. Dit was die boodskap van mnr Stuart Symington, die hoof-uitvoerende beampte van die Varsprodukte-uitvoerdersforum by die allFresh-konferensie by Sun City.

As voorbeeld het hy verwys na die 18% verhoging wat Transnet vir vragvervoer na boere wil deurgee. Mnr Syminton sê baie mense beskryf dit bloot as ‘n onregverdige besluit, maar eintlik is dit oneties. Net so is die feit dat verskepingsmaatskappye na die Transnetstaking verlede jaar die boetes vir vraghouers wat nie betyds uitgevoer is nie, na produsente deurgegee het.

Hy sê wêreldwyd is mense in opstand teen onetiese leiers en onetiese gedrag en in lande soos Morokko, Egipte, Libië, Yemen en Sirië is regeerders gedwing om uit te tree as gevolg van openbare protes.   

Hy sê die wiel wat raas is die een wat die olie kry.

Oral gebruik mense en veral die jonger geslag elektroniese kommunikasie soos die sosiale netwerke om opstande te reël. “Hulle tweet en hulle twitter,” sê hy.

Daar was byvoorbeeld onlangs ‘n betoging in Wall Street teen finansiële maatskappye en banke se onetiese gedrag wat op so ‘n manier gereël is.

Mnr Symington sê dit is tyd dat rolspelers in die bedryf ophou om vingers net na boere en arbeidspraktyke op plase te wys wanneer daar oor etiese kwessies gepraat word. Oor die hele waardeketting is daar onetiese optredes.

Nog ‘n voorbeeld is die manier waarop sekere supermarkte of van hulle aankopers sake doen. Een gebruik is dat supermarkte altyd aandui dat hulle 20% meer voorraad wil koop as wat hulle werklik nodig het, net om die rakke vol te maak. As hulle dit dan nie aankoop nie, is dit die boer se koste.

Hy meen Suid-Afrikaanse boere behoort die subsidies en invoerbeskerming van ander lande ook as ‘n etiese kwessie beskou. “Hoe kan Suid-Afrikaanse boere byvoorbeeld dieselfde invoerheffing aan Indië betaal as Amerikaanse boere wat jaarliks met $20 miljard gesubsidieer word en Europese boere wat $80 miljard aan subsidies ontvang?” vra mnr Symington.

Hy sê nogtans bly Suid-Afrikaanse boere stil. “Wat doen hulle in Frankryk of ander Europese lande as hulle nie tevrede is met regeringsbeleid of hoe hulle hanteer word nie? Die boere ry met hul trekkers en stropers in die stede in, hulle parkeer dit in die strate, haal die sleutels uit en los dit daar totdat daar aan hul besware gehoor gegee word,” sê hy.

Hy het boere aangemoedig om gesamentlik aksie te neem teen onetiese gedrag en om hulle mag te gebruik wat hulle het met betrekking tot die weerhouding van produkte.

Mnr Symington het na baie voorbeelde verwys van die sakewêreld en politici wat oneties optree en gesê hy kry die indruk dat die begrip, eerlike politikus, ‘n oksimoron is.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment