Moenie-dit-opdoen-nie!
“Luister nou na my, dit is DNB! Moenie brucellose opdoen nie. Nie jy of jou vrou of jou kind, of jou werker of jou os of esel nie.” So het dokter Steyn die dag sy lesing oor besmetlike misgeboorte of Brucellose afgesluit. Dit het nogal geklink na een van die tien gebooie.
Twee jaar later het ek besef hoekom hy dit so benadruk het. Ek het ‘n Brucella abortus infeksie opgedoen en baie siek geword.
En nou dat daar ’n geval van Brucella melitensis uitgebreek het in Gauteng voel ek om soos dokter Steyn dit ernstig te benadruk. Moenie dit opdoen nie!
Ons almal ken of het al gehoor van Brucella abortus of soos hy in die volksmond bekend staan, besmetlike misgeboorte. Dit kom algemeen by beeste voor. Die ekwivalent daarvan by skape en bokke word Brucella melitensis genoem. Die voorkoms daarvan was egter baie minder algemeen as besmetlike misgeboorte by beeste.
Vervolgens inligting oor Brucella melitensis. Lees dit gerus want volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit ’n baie belangrike zoonose wat ernstige kliniese siekte by mense kan veroorsaak, veel meer ernstig as wat die geval met Brucella abortus is.
Veroorsakende organisme
Soos reeds in die inleiding genoem is, word die siekte deur die bakterie, Brucella melitensis, veroorsaak.
Roete van infeksie
Infeksie vind hoofsaaklik plaas via die slymvliese, veral van die boonste lugweë en via die oogslymvliese. Infeksie via die genitalieë slymvliese kan ook voorkom. Hoe die bakterieë homself vestig in die liggaam hang af van die gasheer se ouderdom, immuunstatus en dragtigheidstatus. Indien die dier dragtig is versprei die infeksie na die baarmoeder maar limfknope en ander organe (uier en milt) kan ook geïnfekteer word. Die infeksie in volwasse diere is gewoonlik lewenslank.
Siektetekens van Brucella melitensis in kleinvee
Wanneer die woord brusellose gehoor word is die eerste waaraan gedink word aborsies. By Brucella melitensis is dit dan ook so. Die siekte word gewoonlik opgemerk en gediagnoseer in ’n kudde nadat ooie begin aborteer het. Daar word dikwels na verwys as ’n “aborsiestorm” wat beteken dat ’n groot persentasie van die ooie aborteer. Dit gebeur gewoonlik gedurende die laat dragtigheidperiode van die ooie.
Die plasenta kan vassit en daar is ‘n vaginale uitskeiding (wat hoogs besmet is). By manlike diere kan orgitis of bybal ontsteking voorkom. Artritis kan ook voorkom in beide manlike en vroulike diere.
Verspreiding van die siekte by kleinvee
Kleinvee is kudde diere en wanneer een ooi lam is daar gewoonlik ’n paar ander wat kom ruik of lek aan die lam, en in die geval van ’n abortus sal hulle die infeksie op die manier opdoen. Plasentas wat vassit en vaginale uitskeiding besmet ook die omgewing, voer en waterbakke.
Ooie versprei die siekte ook deur besmette melk en biesmelk aan lammers wat draers van die siekte bly tot volwassenheid. Ramme wat orgitis of bybal ontsteking het kan die siekte deur middel van besmette semen versprei.
Verspreiding van die siekte by mense
Boere en plaaswerkers het maar altyd stukkende plekke aan die hande. Wanneer hulle dan besmette abortusse met kaal hande hanteer, doen hulle die infeksie op. So ook wanneer ’n plasenta wat vassit met kaal hande uitgetrek word. Dit gebeur ook dat druppels van besmette materiaal in die oë of mond beland, waarna dit tot infeksie kan lei. Die inname van rou (ongepasteuriseerde of ongekookte) melk wat besmet is, is ook ’n oorsaak van infeksie.
Wat om te doen indien aborsiestorms voorkom
Dit is nou nie voorheen genoem nie maar onkunde is sekerlik ook een van die redes waarom die siekte versprei, van dier tot dier en van dier tot mens.
Geen abortus moet ooit met kaal hande hanteer word nie. Probeer om ander ooie van die abortus weg te hou en verwittig onmiddelik die naaste staatsveearts. Indien jy nie die staatsveearts ken nie, verwittig die naaste veearts. Hy sal die staatsveearts kontak of self uitkom na die plaas toe.
Die veearts sal dan die situasie evalueer en indien hy of sy vermoed dat dit brusellose is, sal dit soos die wet vereis by die betrokke ditrekteur aangemeld word. Deur die siekte aan te meld kan dit gekontroleer en uiteindelik beheer word om te voorkom dat dit deur die hele land versprei.
Wat om te doen indien materiaal hanteer is wat moontlik besmet is
Dit is belangrik om te weet dat daar ander oorsake ook is van aborsies, en nie almal is zoonoses nie. Indien besmette materiaal hanteer is sonder beskermende klerasie moet die hande deeglik gewas word. Indien tipiese griep simptome ervaar word moet ’n dokter geraadpleeg word. Bosluisbytkoors en malaria het ooreenstemmende simptome.
Die siektetekens kan enige van die volgende insluit of in kombinasies voorkom:
Koors, nagsweet, kouekoors, erge hoofpyn, gewrigspyne, veral in die knieë en elmboë, lae rugspierpyn, algemene swakheid en naarheid. Moenie uitstel indien sulke simptome voorkom nie, gaan sien die dokter dadelik en noem dat materiaal wat moontlik met Brucella melitensis besmet is, hanteer is. Die siekte kan gekompliseerd en kronies raak, en vinnige doeltreffende behandeling is van uiterste belang.
Om weer terug te kom by die inleiding: Moenie brusellose opdoen nie, nie jy of jou werker of jou naaste of jou hond of jou esel of iets van jou naaste nie. Tref voorsorg deur jou kleinvee met Brucella Rev 1-entstof te ent. Wees net baie versigtig wanneer die entstof hanteer word, dit is lewende entstof en kan infeksie veroorsaak by die mens.
Gaan lees gerus die inligting op die SAVC webblad (www.savc.co.za) geskryf deur dr Sunelle Strydom (BVSc).
Geraadpleegde bronne
Brucellosis in sheep and goats. 2001. European Commision: Scientific Committee on Animal Health and Animal Welfare ( Webtuiste) Beskikbaar by http://ec.europa.eu/food/fs/sc/scah/out59_en.pdf
Strydom, S. 2011. Brucella melitensis-a forgotten disease? (SAVC webtuiste) beskikbaar by http://www.savc.co.za
The Merck Veterinary Manual online Version. 2008. Merck & Co. Inc. Whitehouse station, N.J.USA