Moenie-bye-doodmaak-nie
Die Suid-Afrikaanse Plaagbeheervereniging (SAPCA) het ‘n nasionale veldtog van stapel gestuur om te verseker dat hulle lede nie probeer om bye uit te wis of met swerms in te meng nie. “Die plaagbeheerbedryf het in die spervuur gekom as gevolg van sommige plaagbestryders wat nie die korrekte prosedures ten opsigte van die hantering van bye volg nie,” het SAPCA se hoof-uitvoerende beampte, Lynette Cokayne gesê.
“Ons wil dit weereens duidelik stel dat ons ten sterkste teen die doodmaak van bye gekant is, en beklemtoon dat daar geen wettige middels is om bye mee dood te maak nie,” het mev Cokayne gesê. “Ons lede is aangeraai om hulle daarvan te weerhou om met bye in te meng en SAPCA het kragte saamgespan met dr Gerhard Verdoorn van AVCASA om te verseker dat ons riglyne gevolg word.”
SAPCA doen verder ‘n beroep op die publiek en plaagbeheermaatskappye wat nie lid van die vereniging is nie om onder geen omstandighede bye dood te maak nie. Mev Cokayne het gesê probleme met bye behoort na persone verwys te word wat gekwalifiseerd is om bye te hanteer. “Ons is besig om ‘n lys van byeboere in al die verskillende streke saam te stel, wat op die SAPCA-webwerf, www.sapca.org.za beskikbaar gestel en aan ons lede versprei sal word.” Lidmaatskappye kan SAPCA se hoofkantoor by 0126547708 of 0861114556 kontak vir die kontakbesonderhede van byeboere in hulle gebied.
“Ons lede behoort die verspreiding van hierdie inligting as deel van hul dienslewering aan die publiek te beskou,” het mev Cokayne gesê.