Categories: NewsPublished On: 6th July 2010

Moegword-is-min-vir-John-Deere-se-5003-reeks

By 3 min read
643 words

Een bondel pure trekkerkrag in ’n aantreklike groen verpakking. Dit is John Deere se betroubare 5003-reeks wat sy man op plase regoor Suid-Afrika staan.

Een so ’n plaas is die le­moen- en nartjieboerdery van die Wenholdts in die skadu van die Magaliesberg knap duskant Mooinooi.

By die familieboerderye, Casmar Sitrus en Casmar Kwekery, het die jong Herman Wenholdt nou nog Casmar Konstruksie gevoeg en in al drie dié sake speel John Deere ’n sleutelrol.

“Hier by ons kry ’n trekker nie kans om te staan nie,” vertel hy. “Hy werk elke dag die hele jaar deur.”

Casmar se John Deere 5403 met tweewielaandrywing is nou nog maar agt maande op die plaas, maar hy het al 1 400 strawwe werksure agter die blad – sonder ’n teken van moegword of ’n enkele probleem.

Wanneer hy nie gras en bossies tussen die sitrusbome sny nie, ry hy vragte vrugte uit die boorde uit. Die plukkers gooi hulle nartjies of lemoene in groot massasakke wat so 400 kg weeg. Met ’n aapsterthaak aan sy driepunthyser kom laai die 5403 die sakke en draf daarmee uit die boorde uit tot langs die vragmotor, vanwaar dit fabriek toe vervoer word.

Dit beteken heeldag heen en weer, vorentoe en agtertoe en ’n volle dag se strawwe dag se oefening vir die trekker se hyser. Maar moegword is min en met sy brandstoftenk van 72 liter werk hy boonop maklik vier volle dae voordat jy met die dieselkan hoef nader te staan!

Die Wenholds was eers maar skepties oor die 48 kW-trekkertjie se vermoë om ’n newelspuit aan te dryf. Voorheen het veel groter ander trekkers dié werk gedoen.

Die handelaar, Afgri Brits, moes die 5403 eers twee dae plaas toe bring sodat hulle kon seker maak – en hy het die toets met vlieënde vaandels geslaag!

Vandag is hy al so geoefen met die newelspuit dat hy daglank met hom tussen Casmar Sitrus se uitgestrekte boorde stap. En ook geen wonder nie, want met 42 kW kragaftakkerkrag teen 2 400 enjinomwentelinge is hy ideaal geskik vir kragaftakkerwerk.

Vir ligter kragaftakkerwerk het hy ’n ekonomiese opsie, genaamd 540E, wat nog minder diesel verg.

Ook by die sitruskwekery se 400 000 boompies kom die 5403 met sy doeltreffende kragaftakker handig te pas, waar hy handspuite aandryf vir die talle spuitprogramme wat so ’n kwekery vereis.

Al wat operateur op die plase is wil net met die groen trekker werk. En ook geen wonder nie, sê Herman, want die John Deere 5403 ry en bestuur soos ’n droom.

En daarom is sy droom om stelselmatig al die trekkers op die plaas met John Deere te vervang. Hy het reeds ook ’n John Deere 5215F wat nie net op die plaas werk nie, maar ook snykontrakteurswerk doen met soortgelyke dapperheid, betroubaarheid en ekonomie.

Daar is twee modelle in John Deere se 5003-reeks, met ’n keuse van twee- of vierwieltrek vir elke model.

Die enigste verskil tussen die twee modelle is dat die 5303 natuurlike luginlaat het en die 5403 ’n turbo-aanjaer. Dit  beteken dat die 5303 se driesilinderenjin van 2,9 liter vir jou 42 kW teen 2 400 opm gee teen die 5403 se identiese enjin se 48 kW.

Albei modelle het 9 ratte vorentoe en een tru, almal ten volle gesinchroniseerd, en hulle kan 30 km/h draf as jy haastig wil raak.

Die trekker se hidrouliese pomp lewer 68,8 liter per minuut en die driepunthyser lig lag-lag 1 629 kg.

Vir boordwerk is dit belang­rik dat die tweewieltrekmodelle sonder gebruik van die binnerem ’n draaisirkel van net 3,5 meter het en met die rem net 3,18 meter.

Elke plaas het ’n behoefte aan ’n ratse klein trekkertjie wat groot werk doen en min diesel gebruik. Vir so ’n bultrekker teen ’n bekos­tigbare prys, praat met jou John Deere-handelaar of besoek www.johndeere.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0