Categories: NewsPublished On: 10th March 2011

Minister kwaad vir volstruisboer

By 1 min read
Mnr Gerrit van Rensburg, die provinsiale minister van Landbou in die Wes-Kaap het sy skok en woede uitgespreek oor die volstruisvrektes op ‘n plaas tussen Laingsburg en Oudtshoorn. 70 volstruise het op die plaas Vleiland van die honger omgekom.
 
Die gebeure is deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging bekend gemaak. Die DBV se hulp is deur ‘n buurman ingeroep. Dié organisasie en ander boere in die omgewing het ingegryp om die oorblywende 630 volstruise aan die lewe te hou.
 
Die boer se naam is nie bekend gemaak nie, maar volgens die DBV is dit ‘n jong man wat die plaas moes oorneem na sy pa se dood twee jaar gelede. As gevolg van ‘n gesloer met die boedel, het hy nie genoeg geld gehad om voer aan te koop nie. Hy kon ook nie die elektrisiteit betaal om water te pomp nie en het water van ‘n buurman af aangery.
 
Mnr Van Rensburg het lede van die publiek en die DBV bedank vir hulle vinnige optrede en gesê die boer moet vir dieremishandeling vervolg word. Hy sê die boer skaad die beeld van landbou in die provinsie en die land.   
 
Mnr Hennie Davel van die DBV sê die boer het ’n onderneming onderteken dat hy verantwoordelik na die volstruise sal omsien. Hy sê: “As die volstruise die volgende maand oorleef, sal van hulle verkoop word. Ons hoop om die jong boer te help om broeivolstruise te behou wat die plaas sal help voortbestaan.”
 
Enigiemand wat skenkings wil maak om die volstruise help oorleef, kan mnr Davel by 0044 2793017 skakel.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0