Minder mielies, meer sonneblom
Daar is 13% minder mielies aangeplant as verlede jaar, maar die sonneblomoes gaan na verwagting 65% meer wees. Die Oesskattingskomitee se jongste verslag dui op ‘n daling van 1,771 miljoen ton in 2011 se mielie-oes. Die totale oes word op 11,044 miljoen ton geskat, teenoor 2010 se oes van 12, 815 miljoen ton. Die verwagte opbrengs is 4,63 t/ha.
Die produksieskatting vir witmielies dui ‘n daling van 18,72% van 7, 830 miljoen ton in 2010, na 6,364 miljoen ton in 2011 aan. Wat geelmielies aanbetref, word 2011 se oes op 4,680 miljoen ton geskat, wat 6,12% minder is as die 4,985 miljoen ton van 2010.
Volgens die jongste inligting wat die Oesskattingskomitee van die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (PICES) ontvang het, word die grondoppervlakte onder mielies op 2,383 miljoen ha geraam.
Die oesskatting vir sonneblomsaad dui ‘n styging van 64,98% aan, van 490 000 ton in 2010, na ‘n verwagte 808 420 ton in 2011.
619 700 ha sonneblom is dié seisoen aangeplant, wat 55,82% meer is as die 397 700 ha wat verlede jaar onder sonneblom was. Die verwagte opbrengs vir die jaar se oes is 1,30 ton per ha, teenoor die 1,23 ton per ha van 2010.
Die sojaboonoes is na verwagting 729 050 ton, wat 28,81% meer as die 566 000 ton van die vorige seisoen is. Hoewel die oppervlakteskatting 55,82% meer as die vorige seisoen is, word ‘n opbrengs van 1,74 ton per ha verwag teenoor verlede jaar se 1,82 ton per ha.
Die grondboonoes word op 84 525 ton, of 3,95% minder as 2010 se oes geskat, terwyl die produksieskatting vir droëbone 1,81% hoër op 53 200 ton is. Die verwagte sorghumoes is 6,51% hoër op 209 300 ton.
Wat wintergewasse aanbetref is die produksieskatting vir koring afwaarts aangepas met 46 370 ton na 1,465 miljoen ton, wat 3,07% laer is as die vorige skatting. Die oppervlakte onder koring is onveranderd op 558 100 ha gelaat, en ‘n gemiddelde opbrengs van 2,62 ton per ha word verwag.