Mielie-oes op amper elf miljoen ton geskat
![]() |
Die Oesskattingskomitee reken op die tydstip dat die mielie-oes op byna 11 miljoen ton te staan gaan kom.
Dit is net meer as 1% hoër is as die vorige skatting. Die hoofrede vir hierdie toename is die hoër opbrengs vir witmielies in die oostelike produksiegebiede wat op resultate van die Nasionale Oesskattingskonsortium gegrond is.
Die verwagte opbrengs is van 4,59 t/ha (vorige skatting) na 4,63 t/ha (tans) verhoog.
Die produksieskatting vir witmielies is op die oomblik 6,371 miljoen ton teenoor 6,261 miljoen ton van die vorige skatting. Vir geelmielies is die produksieskatting onveranderd gelaat op 4,622 miljoen ton.
Die vorige seisoen se algehele mielie-oes het op net meer as 12,8 miljoen ton te staan gekom.
Op die verslag word die nie-kommersieële mielieoes afsonderlik aangedui. Dit beloop tans 564 335 ton.
Ander gewasse
Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 809 470 ton. Die verwagte opbrengs is 1,26 t/ha.
Die skatting vir sojabone is onveranderd gelaat op 676 850 ton. Die verwagte opbrengs 1,62 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes het effens afgeneem en staan tans op 85 525 ton. Die verwagte opbrengs 1,55 t/ha.
Die produksieskatting vir sorghum is onveranderd gelaat op 201 800 ton. Die verwagte opbrengs is 2,92 t/ha.
Droëbone se produksieskatting is ook onveranderd gelaat op 47 620 ton. Die verwagte opbrengs is 1,14 t/ha.
Die vyfde produksieskatting vir somergewasse word op 23 Junie verwag.