Mielie-differensiale: Nog ‘n geldskok vir boere
Die JSE het aangekondig dat die liggingsdifferensiaal vir mielies met gemiddeld 28% vir die 183 silo’s gestyg het. Die indiwiduele aanpassings wissel tussen -19% (R-21/ton) en 68% (R161/ton).
“Die nuut afgekondigde liggingsdifferensiale vir mielies het as ʼn groot skok vir mielieprodusente gekom”, sê mnr Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA.
Die liggingsdifferensiaal het ‘n regstreekse invloed op die SAFEX-afgeleide prys by ʼn spesifieke leweringspunt. Omdat die SAFEX-afgeleide prys die verwysingsprys in die kontantmark is, het hierdie aanpassing ʼn groot uitwerking op die prys wat mielieboere, veral in verafgeleë gebiede, vir hulle mielies kan beding.
Graan SA sê in ‘n verklaring: “Die JSE het in sy berekeninge van die differensiale gepoog om die werklike vervoerkoste, gebaseer op ʼn geweegdegemiddelde tussen spoor- en padvervoer, vanaf die spesifieke lokaliteit tot by Randfontein te bepaal. In die verlede is die vorige seisoen se differensiaal as vertrekpunt gebruik en is ʼn persentasie aanpassing daarop toegepas. Die enigste geluk is dat die nuutste brandstofpryse nog nie bekend was toe die JSE die berekeninge gedoen het nie.”
Mnr De Villiers sê verder dat indien ʼn normale vervoerinflasiesyfer, gebaseer op kostestygings in die vervoerbedryf, as aanpassing gebruik sou word, ʼn 11%-verhoging waarskynlik geregverdig sou kon word. Dit sou ʼn gemiddelde verhoging van R16 per ton in plaas van die aangekondigde R41 per ton tot gevolg gehad het. Die afgekondigde differensiaal gaan produsente R451 miljoen meer uit die sak jaag.
Deel van die kostestyging is ‘n regstreekse resultaat van die swak vervoerinfrastruktuur in Suid-Afrika. Die persentasie graan wat per spoor vervoer word, daal jaarliks weens kapasiteitsprobleme by Transnet. Padvervoer is in sommige gevalle tot 30% duurder as spoorvervoer. In gebiede waar die differensiaal met meer as 40% gestyg het, word boere se finansiële oorlewing bedreig.