Mercedes-Benz X-Class bakkie op pad na SA
Mercedes-Benz se nuwe X-Class dubbelkajuit-bakkie waarna met groot afwagting in Suid-Afrika uitgesien word, word binnekort plaaslik bekendgestel. Die X-Class is ‛n nuutjie vir die manne uit Stuttgart wat meer bekend is vir hul über-luukse sedan-voertuie en sportnutse.
Juis daarom was dit seker te wagte dat Mercedes besluit het om die nuwe X-Class bakkie in samewerking met Nissan te bou; wat wêreldwyd vir hulle hardebaardbakkies bekend is. Die nuwe Navara in die Renault/Nissan-stal vorm grootliks die platform vir die X-Class, wat dit ‛n goeie basis gee. Nissan bou die nuwe X-Class vir Mercedes in Nissan se aanleg in Spanje.
Die X-Class se bakpanele is spesiaal ontwerp vir Mercedes-Benz en die wielspoor, asook die laaibak is wyer as dié van die Navara. Die wyer spoor, te danke aan nuwe, breër aste, saam met ‛n opgegradeerde veerstelsel vir die Mercedes, dra grootliks by tot verbeterde paddinamika en rygerief by die X-Class. Die trommelremme agter is ook met skryfremme vervang.
Volgens Mercedes sal die X-Class die wêreld se eerste luukse dubbel-kajuitbakkie wees. Gevolglik is die kajuit se ontwerp en afwerking onder hande geneem. Met ‛n tipiese uitleg en gehalte waaraan Mercedes-eienaars in die jongste Mercedes-sedanmodelle gewoond geraak het, sal die X-Class ongetwyfeld nie teleurstel nie. Tydens die internasionale bekendstelling in Chili verlede jaar, het joernaliste wat die kans gekry het om die X-Class te bestuur, melding gemaak van die afwerking en tipiese Mercedes Benz-ontwerp in die X-Class se kajuit.
Uiteraard sal van Mercedes se baanbrekertegnologie ook in die X-Class te vinde wees. Twee afwerkingsvlakke gaan in Suid-Afrika beskikbaar wees, naamlik, Progressive en Power.
Benewens die normale standaard luukshede soos lugversorging, sewe lugsakke en LUD-liggies vir die laairuimte, kry die Progressive bykomend kleurgepaste buffers, 17″allooiwiele en agt luidsprekers en jy het die opsie van aluminiumbinne-afwerking.
Kies jy die Power, dan ry jou X-Class op 18” wiele en daar is heelwat blink chroomafwerking ekstra, asook LUD-hoofligte.
Binne-in die kajuit is daar Artico leerafwerking en ‛n ordentlike klank-, kommunikasie- en inligtingstelsel wat op ‛n tabletagtige kleurskerm bo in die middel van die voorpaneel vertoon word. Verder is daar klimaatbeheer, elektriese sitplekke en sleutellose toegang en aanskakel.
Die stuurwiel se hoogte kan verstel en die beenruimte vir die agterste insittendes is wat van ‘n dubbelkajuit verwag kan word. Uiteraard gaan Mercedes ‛n lang lys van opsionele ekstras vir jou X-Class beskikbaar hê, waaruit jy na hartelus kan kies om jou Merc-bakkie ekstra persoonlikheid te gee, soos kappies, tralies en groter wiele.
Ons kon nog nie die nuwe X-Class bestuur nie, maar van die manne wat wel het, is dit eens dat Mercedes dit reggekry het om iets van die G-Class se gevoel van onstuitbaarheid vas te vang wanneer daar agter die stuur van die X-Class ingeskuif word.
Terwyl die X-Class nie in dieselfde klas is as die G-Class wanneer daar in die veld gespeel word nie, het dit na wat verneem word redelik gemaklik van die teer af gevoel.
Al die 4×4-modelle, met die uitsondering van die vlagskip, is toegerus met Mercedes se 4Matic-viertrekstelsel waar die bestuurder deur middel van ‛n kiesknop in die kajuit kan kies tussen twee- en vierwielaandrywing. Die stelsel bied ook ‛n agterste ewenaarslot en heuwel-afbeheer. Die topmodel X350d het permanente vierwielaandrywing.
Met ‛n 222 mm grondvryhoogte, 600 mm waterdiepteryvermoë asook ‛n 30/25 grade inklim- en vertrekhoek-vermoë onderskeidelik sal die X-Class nie net randsteentjies en grondpaaie hoef te verken nie.
Aandrywing vir die nuwe X-Class bakkie is aanvanklik deur middel van twee enjinopsies. Die modelle wat vanaf Mei 2018 beskikbaar sal wees is as volg:
X 220 d – Progressive 4X2 handrat 120 kW @ R642 103
X 250 d – Progressive 4×2 outomaties 140 kW/450 Nm @ R694 025
X 250 d – Progressive 4×4 handrat 140 kW/450 Nm @ R696 785
X 250d Power 4×4 handrat 140 kW/450 Nm @ R791 315
Die X250d Progressive 4×2 AT het standaard ‘n outomatiese 7-spoed ratkas. Die handratmodelle het 6-spoed ratkaste.
Skakel Sibusiso Mkwanazi by 082-560-0214 of +27 12-673-6864 of stuur ‛n e-pos na sibusiso.mkwanazi@daimler.com. Besoek ook www.x-class.co.za.