Melkmaatskappy-belê-in-Afrikaanse-kultuurfees
Clover het ’n multimiljoenrandbelegging in die Aardklop Nasionale Kunstefees aangekondig. Die fees word jaarliks in Potchefstroom in die Noordwesprovinsie aangebied.
Volgens ‘n verklaring strek die borgskap oor ’n tydperk van vyf jaar en lewer dit bewys van Clover se verbintenis daartoe om ’n bydrae te maak tot die groei en uitbou van kuns en kultuur in Suid-Afrika. Dié belegging maak Clover een van die grootste borge van kunstefeeste.
Ten opsigte van die ooreenkoms vir die naamregte sal Clover die fees vanjaar met sowat R4,5 miljoen borg. ’n Verdere sowat R2 miljoen sal bestee word as bedryfsinvestering vir aktiwiteite en dienste wat met die fees verband hou.
Die borgskap van R4,5 miljoen vir die jaarlikse naamregte sal elke jaar volgens inflasie aangepas word. Die waarde vir die totale borgskap vir die vyf jaar is meer as R30 miljoen – een van die grootste beleggings in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf die afgelope jare. Met die borgskap bekom Clover uitgebreide kommersiële en bemarkingsregte by die fees. Teen die einde van die vyfde jaar het Clover ook die opsie om die ooreenkoms vir die naamregte te hernu.
“Dit was nog altyd vir Clover belangrik om in ons gemeenskappe te belê en dit maak ons besonder gelukkig om ’n bydrae te lewer tot die uitbouiing van een van Suid-Afrika se voorste feeste,” het Johann Vorster, uitvoerende hoof, van Clover gesê. “Ons borg byvoorbeeld die jaarlikse Huisgenoot Skouspel sedert 2003 en glo daar is groot belangstelling in en waardering vir kunstefeeste landswyd. Ons is baie opgewonde oor die toekoms van Aardklop. Dit beskik oor ’n professionele en toegewyde bestuurspan, en pas by uitstek in by Clover se oorkoepelende handelsmerk en algehele teikenmark.”
Hoewel Clover vir etlike jare landswyd verskeie plaaslike en streeksgebeurtenisse ondersteun, was hy op soek na ’n geleentheid om in die kuns-en-kultuursektor te belê om sy handelsmerkposisie en bemarkingstrategie uit te brei. Met dié dat Clover verlede jaar op die JSE genoteer het, glo hy die borgskap weerspieël die maatskappy se hoër openbare profiel.
In reaksie op die borgskapsooreenkoms met Clover het Andries Vrey, uitvoerende hoof van Aardklop, gesê: “Die borgskap dui nie net op die vertroue wat in Aardklop gestel word nie, maar ook in kuns en kultuur in Suid-Afrika in die algemeen. Met Clover as naamborg het ons die geleentheid om ’n bydrae te lewer om die handelsmerk as ’n leier in die veld van die uitvoerende kunste in Suid-Afrika te vestig, terwyl ons ook Aardklop as kunstefees kan uitbou en ontwikkel.
“Korporatiewe belegging is dikwels die lewensbloed van die kunste en sonder die ondersteuning van al ons borge deur die jare sou Aardklop nie kon ontwikkel tot die sukesverhaal wat dit vandag is nie.”
Aardklop se veertiende fees lê om die draai. In 2010 is digby 182 000 kaartjies oor vyf dae verkoop, wat Aardklop een van die grootste feeste in Suid-Afrika maak. Vanjaar word meer as 100 produksies aangebied, wat debuutproduksies insluit onder opdrag van Aardklop. Die ekonomiese impak van Aardklop word gereken op sowat R82 miljoen, wat beteken dat die fees een van die grootste ekonomiese inspuitings vir die Noordwesprovinsie is.
Chris Lerm, Clover se uitvoerende direkteur in beheer van handelsmerke, sê: “Ons investering in handelsmerkkommunikasie, korporatiewe sosiale programme en in kuns en kultuur is reeds beduidend. Ons langtermynstrategie is om ons te posisioneer as ’n beskermheer van die kunste en ons Aardklop-borgskap gee gestalte hieraan. Aardklop is ’n gesinsfees en ons hoofmark is vroue met kinders. Dit maak ekonomies sin om by Aardklop betrokke te raak omdat feeste van dié aard ons toegang en blootstelling gee tot ’n fokusmark.
“Deur ons verhouding met Aardklop, wat reeds ’n wesenlike bydrae tot die uitvoerende kunste maak, kan ons inskakel by ’n bestaande suksesvolle sakemodel wat ons die geleentheid gee om regstreeks by gemeenskappe betrokke te raak in ander streke,” aldus mnr Lerm.