Melkboere-word-nog-minder
Die Melkprodusente-organisasie se nasionale kongres begin vandag op Howick in Kwazulu-Natal te midde van kommer oor krimpende melkboergetalle. Die MPO reken die land het tans minder as 2 600 melkboere oor.
Dr Koos Coetzee, ekonoom van die MPO, sê volgens hulle syfers bevind die meeste van die boere wat die bedryf verlaat, hulle tans in die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga. Hy sê dit is veral kleiner boere of boere met ‘n gemengde boerdery wat die suiwelbedryf verlaat. Dikwels is hoë vleispryse ook ‘n aansporing vir boere om eerder van melkkoeie wat nie geld inbring nie, ontslae te raak,
Volgens die MPO is die prys wat melkboere in Junie die jaar verdien het 7% minder as tydens die ooreenstemmende tydperk in 2010. Mnr Déan Kleynhans, voorsitter van die MPO, sê internasionale produkpryse is tans 10% hoër as aan die einde van 2010, en 99% hoër vanaf die laagtepunt in Februarie 2009. Anders as in die graan- en vleisbedryf, het Suid-Afrikaanse suiwelboere dus nog nie in die voordele van die internasionale opswaai gedeel nie.
Ander suiwelnuus:
Bees-tuberkulien beskikbaar
In antwoord op navrae deur die MPO, het Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) bevestig dat hulle tans bees-tuberkulien in voorraad het en melkprodusente word aangeraai om staatsveeartse, asook hul eie veeartse, hieroor te raadpleeg. Kontak dr Noduma by 012-522-1500 vir meer inligting of stuur ‘n faks na 012-565-5260 vir entstofbestellings.
Kommer oor hoër invoere
Invoerstatistiek wat onlangs deur Agri Inspec aan die MPO voorsien is, toon ‘n skerp toename in invoere van Junie tot Augustus. Gedurende die eerste agt maande van vanjaar is 26 700 ton suiwelprodukte ingevoer, in vergelyking met 24 800 ton in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Op ‘n melk-ekwivalente basis is die totale invoere 11% meer as in dieselfde tydperk van 2010. Invoere deur sekondêre bedryf-rolspelers het bygedra tot die verhoogde invoere. Volgens MPO-ekonoom dr Koos Coetzee, is die MPO bekommerd dat invoerders meer produkte as wat nodig is om in hulle vraag te voorsien sal invoer, veral omdat melkproduksie normaalweg in die lente toeneem. Invoere deur verwerkers, van wie sommige hul produsentepryse in 2010 aansienlik verlaag het, is ‘n bron van kommer.
MPO ondersoek praktiese, bekostigbare biogas-aanlegte
Biogas word wêreldwyd algemeen gebruik, veral op melkplase, waar koeimis en ander plaasafval in biogasverwerkers geplaas word, wat biogas vir kook- en verhittingsdoeleindes maak, asook om elektrisiteit op te wek. In Suid-Afrika is dié tegnologie egter nog redelik onbeproef en is slegs ‘n klein aantal huishoudelike en kommersiële verwerkers tot op datum opgerig en in gebruik geneem.
Die MPO glo dat die koste hierby betrokke die hoofrede is waarom boere nie in hierdie tegnologie belê nie. Die MPO is van mening dat biogas ‘n bron van volhoubare alternatiewe energie is, wat relatief lae tegnologiese inset verg en in die lig van stygende elektrisiteitskostes baie koste-doeltreffend kan wees. Vergaderings in hierdie verband is met verskeie maatskappye en organisasies gevoer, insluitende die Nywerheidsontwikkelingsorganisasie.