Melkboere-verlaat-die-bedryf
Op ‘n vergadering van sowat 50 besorgde melkprodusente van die Overbergstreek, is met skok kennis geneem dat 21 melkprodusente van een melkkoper die bedryf gedurende die afgelope 6 maande verlaat het. Volgens die MPO se weeklikse nuusbrief is die vergadering ingelig dat nog 12 produsente gedwing gaan wees om die bedryf binne die volgende 3 maande te verlaat indien die produsenteprys nie voldoende opwaarts aangepas word nie.
Produsentepryse in Suid-Afrika is tans ten minste 7% laer as ‘n jaar gelede terwyl produsentepryse internasionaal reeds by die styging in internasionale suiwelprodukpryse aangepas het. Invoerpariteit is in die omgewing van R4 per liter, terwyl die gemiddelde produsenteprys plaaslik ongeveer R2,80 per liter is.Nuwe gestruktureerde sake-eenhede op produsentevlak word in die vooruitsig gestel om die wanbalanse wat in die waardeketting bestaan, reg te stel.
Ondertussen word berig dat kleinhandelpryse wat onlangs vrygestel is deur Stats SA ‘n verbetering in die kleinhandelpryse van vars- en langlewemelk die afgelope paar maande toon. Die prys van 2-liter varsmelk is 2,68% hoër as die vorige maand, die vyfde agtereenvolgende maandelikse styging. Die prys van langlewe (UHT) melk is marginaal laer as die vorige maand maar steeds 3% hoër as Desember 2010. Dit, ondanks die laer produsentepryse. Volgens Dr Koos Coetzee, MPO ekonoom, groei die gaping tussen produsente- en verbruikerspryse op ‘n deurlopende grondslag.